Local newsNews

Carien Schabort van Standerton beoordeel vir die VLU na deeglike opleiding

Tekkies wat Carien as taklid in 2015 ingehandig het, het 98% behaal, nadat dit van die tak tot by die hoogste vlak gevorder het.

Me. Carien Schabort van Standerton het suksesvol al die nasionale beoordelaarsafdelings, behalwe blommerangskikking, van die SA VLU geslaag.

Hoewel sy al in blommerangskik by prysuitdelings met die louere weggestap het, wag dié eksamen nog op haar.

Om as beoordelaar te kwalifiseer, moet ‘n drie-uur-lange teoretiese en ook drie-uur-lange praktiese eksamen afgelê word, waar voornemende beoordelaars touwys by gesoute mense gemaak word.

Noem maar op, dit is brei en hekel, masjienwerk, handborduurwerk, handvlyt wat alle kunsvorme insluit, gebak en lekkers, preservering en plaasprodukte en blommerangskik.

“Jy moes al die afdelings kon bemeester,” het Carien gesê.

Elke afdeling vereis sy eie kriteria en die getal artikels wat ingehandig moet word.

“Ek het net ‘n jaar geneem om artikels te voltooi in een spesifieke afdeling, hoewel ‘n voornemende beoordelaar drie jaar het.”

Die Suid-Afrikaanse VLU het die beoordelaarshandleiding geskryf en eksamens vind jaarliks, in Junie, by die SA VLU-hoofkantoor in Pretoria plaas.

Tekkies wat Carien as taklid in 2015 ingehandig het, het 98 persent behaal, nadat dit van die tak tot by die hoogste vlak gevorder het.

Dié tekkies van me. Carien Schabort het 98% op nasionale vlak behaal. (Foto: Verskaf)

‘n Windbreker in 2006 het van die tak, na die streek, na die provinsie, tot op nasionale vlak die keurdersoë beïndruk en uiteindelik sewende geëindig.

VLU-takke landwyd se top vyf items per afdeling, dring deur na die volgende vlak, tot en met nasionale vlak, wat op dié wyse deur verskeie mense beoordeel was.

Carien verkies die handvlytafdeling met al vyf fasette as dit by beoordeling kom.

Sy is ook deeglik bewus van veranderende tendense in kuns en selfs ‘dot art’ is nie bo haar vuurmaakplek nie.

“Ek woon gereeld kursusse by om op hoogte van sake te bly.”

Die vrou wat landbou by Pretoria Technikon studeer het en met varke geboer het, se vriende is soms in stomme verbasing as hulle die nuus verneem dat sy nou al die dinge op haar kerfstok het.

Wat die laaste hekkie om oor te spring, die blommerangskik aanbetref, sal Carien by ‘n blommeklub moet aansluit.

Die vereistes vir beoordelaar word deur die Suid-Afrikaanse Flora-unie bepaal, wat die opleiding behartig.

Carien het die objektiwiteit van ‘n beoordelaar soos volg verwoord:

“Elke beoordelaar het haar eie werkswyse, maar ‘n mens moet konsekwent wees.”

Sy verteenwoordig die VLU-motto van bou aan vrouwees, op haar uitsonderlike manier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button