Local newsNews

Bethal Sopkombuis se vrywilligers sê dankie

Ondersteun plaaslike projek.

BETHAL – Die gemeenskapsprojek, die sopkombuis op Bethal is al vir langer as 30 jaar deel van Bethal se gemeenskap en voorsien behoeftige gesinne weekliks van ‘n basiese kospakkie.

Me. Lettie Olivier wat betrokke is by dié sopkombuis, het gesê die sopkombuis is afhanklik van donasies en skenkings vanuit die gemeenskap.

Die vrywilligers van die sopkombuis bied jaarliks die Boltons-visvangdag, ‘n geldinsamelingsdag vir die sopkombuis, aan.

Die sopkombuis ondersteun sowat 62 gesinne deur die jaar.

Me. Olivier het gesê: “Die jaar van 2020 was ‘n groot uitdaging vir almal, soveel te meer vir die sopkombuis weens die grendeltydperk.

“Die sopkombuis streef daarna om soveel as moontlik gesinne in nood te help en weens die grendeltydperk is daar nog meer mense in nood en die donasies het afgeneem.

“Die gemeenskap van Bethal het weer eens nie die sopkombuis in die steek gelaat nie en daarom wil ons elkeen wat ‘n bydrae gelewer het, baie dankie sê.”

Sy het AfriForum, Solidariteit en elke persoon wat ‘n finansiële bydrae gemaak het of blikkieskos, brood, groente, vrugte, vleis of mieliemeel gegee het, bedank.

Sy het ook elke vrywilliger wat in dié tyd van nood gehelp het, bedank.

“Dankie aan elkeen wat hul tyd afgestaan het en hul harte oopgemaak het om ons by te staan om 110 gesinne in nood te help,” het me. Olivier gesê.

Die sopkombuis bied jaarliks op 16 Desember ‘n Kersfunksie vir gesinne aan en elke kind kry ‘n geskenk by dié geleentheid.

Me. Olivier het gesê daar is tans 50 kinders wat jonger as 18 is wat behoeftig is.

As jy by die sopkombuis betrokke wil raak of hulle wil ondersteun, skakel me. Olivier by 017 647 1509.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button