Jakobus Beyleveldt sterf in skietongeluk op Trichardt

Die polisie het 'n 24-jarige man wat deur die mediese personeel uitgewys is as die een wat mnr. Beyleveldt hospitaal toe geneem het, in hegtenis geneem.

TRICHARDT – Mnr. Jakobus Beyleveldt, ‘n bekende gesig in die gemeenskap en in rugbykringe, is op Saterdagoggend, 12 September in die vroeë oggendure tydens ‘n fratsongeluk by ‘n vriend se huis doodgeskiet.

Mnr. Beyleveldt was ‘n kranige rugbyspeler en lid van Sasol Rugbyklub.

Medelye het op sosiale media deur die rugbyklub, spanmaats en vriende van mnr. Beyleveldt ingestroom.

Volgens die polisieverslag het Trichardt Polisie omstreeks 4vm op Saterdag ‘n oproep van Mediclinic Highveld gekry oor iemand wat doodgeskiet is.

Die polisie het mnr. Beyleveldt by die hospitaal aangetref met ‘n skietwond in die kop en ‘n dokter het reeds bevestig dat hy dood is.

Die polisie het ‘n 24-jarige man wat deur die mediese personeel uitgewys is as die een wat mnr. Beyleveldt hospitaal toe geneem het, in hegtenis geneem.

Dié man het vir die polisie gesê hy en mnr. Beyleveldt was vriende en het by ‘n ander vriend se huis op Trichardt gekuier en besluit om by dié vriend se huis oor te slaap.

Mnr. Beyleveldt het glo reeds gaan slaap en sy vriend wat oppad was om te gaan slaap, het sy vuurwapen uitgehaal om dit te bêre. Terwyl hy in die bed geklim het, is ‘n skoot per ongeluk afgevuur en is mnr. Beyleveldt in die kop getref.

Die vriend het mnr. Beyleveldt in sy voertuig gelaai en na die hospitaal geneem.

Die vriend het op Maandag, 14 September op ‘n aanklagte van moord in die hof verskyn.

Exit mobile version