Local newsNews

Besigheidsafrigter Antoinette, beleef twee inperkings in twee lande

Vrou begin onderneming tydens inperking in Suid-Afrika

TRICHARDT – Me. Antoinette Venter, besigheidsafrigter, het op 9 Maart net betyds in die VSA geland voordat dié land in ‘n totale inperking gegaan het.

Sy het lank reeds haar reisplanne na die VSA gefinaliseer om opleiding as besigheidsafrigter te kry.

Me. Venter kon net op die dag wat sy in die VSA geland het, Las Vegas, waar die opleidingskursus plaasgevind het, besigtig het.

Sy het op dié dag op ‘n bustoer gegaan en kon ‘n paar van die hotelle en casino’s in Las Vegas besigtig.

Die volgende dag was alles toe en selfs die lughawe was verlate toe sy op 24 Maart na Suid-Afrika teruggevlieg het.

“Ek het uit die VSA gegaan tydens hul inperking en was net ‘n paar dae in Suid-Afrika toe het die inperking hiér ook begin,” het me. Venter gesê.

Sy is dankbaar dat die opleidingskursus wat sy bygewoon het, nog kon plaasvind ten spyte van die inperking.

Die lughawe was verlate toe me. Antoinette Venter in Maart terug gevlieg het na Suid-Afrika.

Die groep wat ná haar groep sou opleiding kry, se kursus is gekanselleer.

“Die hotel waar ek tuisgegaan het, die Element Hotel, was baie streng, ons moes ons etes in ons kamers kry en kon net uit die kamer uitgaan vir die kursus.

“Ons groep wat die kursus bygewoon het, mag ook met niemand anders in aanraking gekom het nie.”

Volgens me. Venter was net groot winkelgroepe soos Target, wat onder andere kruideniersware verkoop, oop tydens die inperking.

Restaurante daar kon aflewerings doen en wegneemetes verkoop en net een persoon op ‘n slag is in die restaurante toegelaat om kos te bestel.

“Dit lyk vir my of die mense daar die inperking meer ernstig opgeneem het as die Suid-Afrikaners, daar was baie minder mense by die restaurante om wegneemetes te bestel en daar was niemand in die strate nie,” het me. Venter gesê.

“Ek was so een of twee keer Target toe om vir my warmer klere te gaan koop, want dit was toe baie koud en reënerig daar, wat vreemd was vir dié tyd van die jaar.”

Me. Antoinette Venter by me. Angie Fairbanks, ’n Amerikaanse besigheidsafrigter, in Las Vegas tydens hul gradering nadat me. Venter die opleiding voltooi het.

Sy het ook gesukkel om ‘n vlug terug na Suid-Afrika te kry.

Haar oorspronklike retoervlug is twee keer gekanselleer en sy het toe besluit om self lughawe toe te gaan en te kyk of sy ‘n vlug kon kry.

“Die lughawe was doodstil die dag toe ek teruggevlieg het en die personeel het gesing en gedans, seker omdat hulle nie veel gehad het om te doen nie of om mekaar op te beur.”

Me. Venter is toegelaat om na Suid-Afrika terug te vlieg, maar sy moes na haar aankoms in Johannesburg, vir 14 dae haarself isoleer.

Sy is toegelaat om by haar huis op Trichardt in isolasie te gaan.

“Ek was baie moeg na die lang vlug, so die eerste week of so het dit my nie gepla dat ek in isolasie moes gaan nie, want ek het baie geslaap en gerus.”

Van die laaste mense wat in die strate van Las Vegas was voordat die inperking in die VSA vroeg in Maart begin het.

Me. Venter het ook dié tyd van inperking gebruik en ‘n nuwe loopbaan as besigheidsafrigter begin.

Sy het haar nuwe onderneming tuis begin en deur Zoom vergaderings en op die internet van die grond af opgebou.

Me. Venter het sedert haar tienerjare reeds ‘n kop vir besigheid gehad en het op die ouderdom van 16 reeds begin om skoonheidsprodukte te verkoop.

Sy het destyds vinnig die konsultante wat voltyds skoonheidsprodukte verkoop het, verbygesteek en is verskeie kere as die beste verkoper vir die jaar aangewys.

Sy het op Sasolburg grootgeword en na matriek vir jare in die bankwese gewerk voordat sy haarself op Trichardt gevestig het.

Me. Venter het ook ‘n kreatiewe kant en verf of skilder graag en geniet dit ook om fotoplakboekwerk (scrapbooking) te doen.

Sy bied ook ‘scrapbooking’-klasse aan.

Sy het haar skildertalent in 2015 ontdek en baie van die skilderye wat in haar huis hang, het sy self geskilder.

“Die ‘scrapbooking’ het my geleer om meer kreatiewe oplossings vir probleme in die besigheidswêreld te vind.”

Me. Antoinette Venter teken op ‘n muur nadat sy haar opleiding as besigheidsafrigter in Las Vegas voltooi het. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button