Bethalman versier sy huis met vreemde voorwerpe

Verskeie bome in tuin is vol skoene. "Dink net, elke skoen wat hier in die bome is - waar het hulle al orals geloop," het mnr. Olivier gesê.

BETHAL – Mnr. Theo Olivier (59) het allerhande vreemde voorwerpe in en om sy huis.

Sommige mense sal dit as kuns beskou terwyl ander net dink dit is vreemd.

“Ek sal nie sê ek was altyd ‘n kunstige mens nie, maar nou geniet ek dit om my kreatiwiteit op so ‘n manier uit te druk,” het mnr. Olivier gesê.

“Baie mense het al gesê ek is weird of mal.”

Mnr. Theo Olivier by sy eetkamertafel met die eetgerei wat vanuit blesbokbene gemaak is.

Mnr. Olivier hou nie daarvan om goed weg te gooi nie en sal eerder probeer om iets nuttigs te maak vanuit dinge wat ander mense weggooi of hy sal dit gebruik om sy huis mee te versier.

Hy het vir 35 jaar by Sasol in die mynboubedryf gewerk, maar is in 2015 medies ongeskik verklaar nadat hy met tuberkulose gediagnoseer is en vier maande in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal deurgebring het.

Mnr. Olivier moes toe medikasie deur middel van ‘n drup kry omdat daar nie ander medikasie beskikbaar was nie.

Hy het gesê Sasol-medies het vir sy onkostes betaal toe die medikasie wel beskikbaar was en hy het hulle vir hul ondersteuning bedank.

Een van die bordjies wat buite voor mnr. Theo Olivier se huis teen ’n muur is.

Mnr. Olivier het vyf jaar gelede met sy stokperdjie, om kunswerke vanuit ou goed te maak, begin.

Verskeie bome buite sy huis is van onder tot bo met skoene bedek.

Dié skoene kom van so ver as Port Nolloth waar mnr. Olivier grootgeword het en van die ander het hy by asgate opgetel.

Mense het ook naderhand vir hom sakke vol skoene gebring.

“Dink net, elke skoen wat hier in die bome is – waar het hulle al orals geloop,” het mnr. Olivier gesê.

Mnr. Theo Oliviers se boom wat vol skoene is.

Die skoene is egter nie die vreemdste kunswerke in mnr. Olivier se huis nie, daar is verskeie ‘poppe’ met vreesaanjaende gesigte op.

Mnr. Olivier noem hulle sy spoke.

Daar is die groen spook, die rooi spook, die Rasta-spook, Chucky wat in ‘n doodskis lê en sy nagwag wat bedags by die huis se voordeur sit en Bloubul-horings op sy kop het.

In die nag sit mnr. Olivier gekleurde ligte aan wat deur die spoke skyn en hulle nog meer vreesaanjaend laat lyk.

Die uilvlerke-, pote- en koppe teen mnr. Theo Olivier se muur.

Ander vreemde kunswerke in sy huis is uile se koppe, pote en vlerke wat hy teen die muur bo sy gordyne opgesit het.

“Ek kan nie verby ‘n dooie uil wat langs die pad lê, ry nie.

“Ek stop en tel hulle op en spuit formulien in die vlerke, koppe en pote en nou pronk dit teen my muur.

“Ek hou daarvan, dit lyk vir my mooi,” het mnr. Olivier, wat ‘n valk se pote om sy nek as ‘n hangertjie dra, gesê.

Sy kreatiewe sy en kunstige hand kan gesien word in die tarentaaltjies wat hy vanuit sade gemaak het.

Mnr. Theo Olivier voor een van die ou motorstukke wat hy reggemaak het en teen sy sitkamermuur opgesit het.

“Ek het die sade geverf, swart met wit kolle op, en vir hulle pootjies en gesiggies gemaak,” het hy gesê.

Hy het ook twee ou motors se voorste dele reggemaak, oorgeverf en teen sy sitkamermuur opgesit.

Eetkamerstoele is vanuit ou trekkersitplekke gemaak, eetgerei vanuit blesbokbene en ‘n tafel vanuit die voorkant van trekker.

‘n Volstruis se kop en pote pronk ook teen sy sitkamermuur en ‘n ‘Delicious Monster’-plant hang nou in sy sitkamerdak en dien as ‘n ligskerm.

Mnr. Theo Olivier wys sy Rastaspook.

Vanuit ‘n gedroogde palmtak het hy ‘n olifant se kop en slurp gemaak en netjiese bankies vanuit hout wat buite sy huis staan.

Mnr. Olivier se verloofde van die afgelope paar jaar, me. Linda Taljaard, het, toe sy hom net ontmoet het, ook gedink sy stokperdjies is vreemd, maar nou is sy al gewoond daaraan.

“Sy het vir my ‘n bra gebring wat sy êrens opgetel het en toe maak ek ‘n bordjie daarvan,” het mnr. Olivier gesê.

Verskeie bordjies met skerp en snaakse slagspreuke pronk teen sy muur buite die erf.

Mnr. Olivier het gesê hy is maar net ‘n gewone mens wat aan eerlikheid, respek en liefde glo.

Hy het drie dogters en sewe kleinkinders wat hulself gate uit geniet met al die vreemde en interessante kunswerke as hulle by hul oupa gaan kuier.

Een van die bordjies wat buite voor mnr. Theo Olivier se huis teen ’n muur is.
Een van die bordjies wat buite voor mnr. Theo Olivier se huis teen ’n muur is.

Watch the video here:

Exit mobile version