Rolstoelbattery breek weens kragonderbrekings in Bethal

Ma wil munisipaliteit of Eskom dagvaar as sy net weet hoe

BETHAL – Die krag op Bethal wat meer af as aan is, is ‘n groot probleem vir die meeste mense, maar nog meer so vir me. Madelein van Staden wat ‘n gestremde 18-jarige dogter het.

Shanel Nunes (18) is verstandelik en fisies gestremd.

Sy het met geboorte breinskade opgedoen en is serebraal verlam.

Shanel is sedert 11-jarige-ouderdom aan ‘n rolstoel gekluister.

Me. Van Staden het Shanel altyd in ‘n gewone rolstoel rondgestoot orals waar hulle nodig gehad het om heen te gaan.

“Ons stap winkel toe en kerk toe en Shanel geniet dit ook as ons gaan stap om bietjie uit die huis te kom,” het me. Van Staden gesê.

Sy het nie ‘n motor nie en moet Shanel in haar haar rolstoel stoot as hulle êrens heen wil gaan of ‘n saamry-geleentheid saam met iemand kry.

Ma en dogter was verheug toe mnr. Pieter Walters-Gerout verlede jaar in Desember aan Shanel ‘n elektriese rolstoel geskenk het.

Dit het hul lewens baie makliker gemaak en baie stremming van me. Van Standen afgehaal.

Sy sukkel met rugpyn en dit is vir haar ‘n groot uitdaging om Shanel in haar rolstoel te stoot.

“Toe ons die elektriese rolstoel gekry het, het ons elke dag gaan stap en Shanel het dit so geniet,” het me. Van Staden gesê.

Weens die gedurige kragprobleme op Bethal, het die elektriese rolstoel se battery egter gebreek en sal dit sowat R5 000 kos om te herstel.

Me. Van Staden wil die munisipaliteit of Eskom dagvaar vir die skade van die battery, want dit was nog nie eens ‘n jaar in gebruik nie.

Lees ook: Jong Bethaller vol vreugde oor elektriserolstoel

“Die elektriese rolstoel se battery moet daagliks herlaai word. Ek het dit maar snag gedoen. Soms is die krag so min aan dat ek die battery nie eers ten volle kan herlaai het nie.

“Ek het onlangs die battery die aand voordat ons gaan slaap het, ingeprop om te laai, maar die volgende oggend wou dit glad nie meer werk nie.”

Me. Van Staden kan nou glad nie meer gaan stap met Shanel nie want haar rug word te seer as sy haar in die rolstoel moet stoot.

Buiten die probleem met haar elektriese rolstoel, is dit baie moeilik vir haar om Shanel uit ‘n skottel te was.

“As die krag af is, het ons nie warm water nie, dan moet ek eers water op die gasstoof verhit en Shanel met water uit ‘n skottel was.

“Sy verstaan dit nie en raak geirriteerd en aggressief.”

Shanel het die verstandelike vermoeë van ‘n vier-jarige.

Kosmaak is nog ‘n groot uitdaging vir me. Van Staden as daar nie krag is nie.

“Shanel is veronderstel om groentes en gesonde kos te eet, maar dis baie moeilik om dit sonder krag voor te berei.”

Me. Van Staden het herlaaibare ligte in haar huis, want Shanel word gereeld snags wakker.

Nou moet me. Van Staden eers ‘n kers aansteek as Shanel deur die nag wakker word en dan huil Shanel want sy kry koud of is ongemaklik of het pyn.

“Dan moet ek in kerslig sukkel om haar te help.

“Sy word baie wakker snags, want sy kry koud.

“Ons kan nie meer die elektriese kombers gebruik nie, want die krag is altyd af.”

Me. Van Staden het ook gewoonlik ‘n verwarmer in hul woning aangehad voordat hulle gaan slaap het wat die vertrek warm gemaak het, maar dit is ook nutteloos as daar nie krag is nie.

As jy vir Shanel en me. Van Staden wil ondersteun, skakel haar by 072 259 9780.

Shanel Nunes (18) is baie lief vir haar pop.

Lees ook: Bethal residents have had it with GMM

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version