Local newsNews

Debbie Rautenbach van Standerton maak vrede en eenvoud haar motto

Debbie het skoolgehou by die Georgies, Jeugkrag en Kalies, goeie herinneringe saangeneem en is op die oomblik by Cansa betrokke as hulp by pasiënte-ondersteuning.

Me. Debbie Rautenbach, wat op Caledon gebore en in die Ceresvallei tussen die appelboorde grootgeword het, het die Hoëveld haar tuiste gemaak.

Haar verhaal het momentum gekry toe die Langenhovens in 1969 na die Standerton-omgewing verhuis en Debbie haar groot liefde, Hannes Rautenbach, tydens haar SHS-jare ontmoet het.

Albei het aan die Noordwes-Universiteit studeer en is in 1980 getroud.

Drie kinders, Janie, Elize en Org is gebore en drie skoonkinders later, kuier die familielede om die etenstafel ook saam met ses kleinkinders.

“Ons is bevoorreg om op die plaas Excelsior te woon, wat ‘n panoramiese uitsig oor die Kliprivier en Vrystaat het,” het Debbie gesê.

“Familie en vriende is vir my goud werd.”

Met wonderlike bure en plaaswerkers wat al ‘n lang pad saam met hulle stap, het sy hul lewe as eenvoudig, gevul met gehalte en vrede, beskryf.

“Alles, alles is genade.”

Debbie het skoolgehou by die Georgies, Jeugkrag en Kalies, goeie herinneringe saangeneem en is op die oomblik by Kansa betrokke as hulp by pasiënte-ondersteuning.

Hannes Rautenbach en sy eggenoot, Debbie, leef ’n lewe gevul met vrede en eenvoud. (Foto verskaf)

“‘n Mens leer sóveel daar, veral dat elke dag tel en dat ons net vir mekaar geleen is.”

Sy vind aanklank by ‘n magdom van prentjies soos ‘n kleinkindgesiggie, ‘n mooi roos, ‘n sonsondergang, ‘n pasgebore lammetjie of manlief se dimpelglimlag.

Tussendeur hou dié tuisteskepper haar besig met onthaal, tuinmaak, skilder en lees en o ja, sy wil graag nog ‘n boek skryf oor al die wonderwerke in hul lewens.

“Vir my is een van die belangrikste beginsels in die lewe dat jou woord jou eer behoort te wees, dis so skaars deesdae.”

Debbie beleef die grendeltyd as een waar haar menswees verdiep en sy geleer het om eenvoudig dít te gebruik wat tot haar beskikking is.

“Ons eet nou veel meer kruie uit die veld en tuin en besef hoe dankbaar mens moet wees vir genoeg en vir gesondheid.”

Op ‘n sobere noot het sy bygevoeg dat die meeste van ons veel meer het as wat ons nodig het.

“Om uit te deel, laat ‘n mens vry voel.”

Haar gedagtes wentel onwillekeurig in hierdie tyd om diegene wat regtig eensaam is, of koudkry, of honger is.

“Ek kan nie wag om iemand weer spontaan ‘n drukkie te kan gee en heerlik saam te kuier nie,” het sy mee afgesluit.

“Tog is dit ‘n onbeskryflike voorreg om saans rustig te gaan slaap in die wete dat God in beheer is.”

Hannes Rautenbach en sy eggenoot, Debbie, leef ‘n lewe gevul met vrede en eenvoud. (Foto verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button