Ouma Amelia Wehmeyer van Bethal vier 103de verjaardag

Ouma kan nog loop en lees nog daagliks en help met naaldwerk

BETHAL – Me. Amelia Wehmeyer het op Vrydag, 22 Mei haar 103de verjaardag gevier.

Sy is in 1917 in Boksburg gebore en het haar kinderlewe saam met haar ouers en twee susters op haar ouers se plaas, De Krans, buite Bethal deurgebring.

Me. Wehmeyer was by die plaasskool, De Krans, tussen Bethal en Standerton op laerskool en het later haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Hoogenhout voltooi.

Sy onthou vandag nog hoe sy destyds daagliks skool toe geloop het.

Me. Wehmeyer is in 1940 met mnr. Gideon Wehmeyer in die N.G. Kerk op Bethal getroud.

Hulle is deur die destydse leeraar, ds. Griesel, in die huwelik bevestig.

Die egpaar het ná hul troue na Morgenzon verhuis waar mnr. Wehmeyer by die destydse OTK (nou Afgri) gewerk het.

Mnr. Wehmeyer het later op Wonderfontein naby Belfast begin werk en die gesin het daarheen verhuis.

Me. Wehmeyer was maar ‘n huisvrou omdat daar in daardie dae nie baie werk vir vroue beskikbaar was nie.

Die egpaar het in 1987 na die Selheim Ouetehuis in Johannesburg verhuis en vir 18 maande daar gewoon voordat mnr. Wehmeyer aan ‘n hartaanval dood is.

Me. Wehmeyer het in 1993 by haar dogter, me. Amelia Jelliman, op Alberton gaan woon.

“Ons is tans vier geslagte in een huis, dit is my ma, ek, my dogter en my kleinseun,” het me. Jelliman gesê.

Me. Jelliman is een van drie kinders en me. Wehmeyer het reeds sewe kleinkinders, 11 agterkleinkinders en vyf agter-agterkleinkinders.

Me. Jelliman het haar ma as ‘n liefdevolle, saggeaarde, gelowige en vriendelike mens beskryf.

“Sy stel altyd haar familie eerste en glo daarin om met almal kontak te behou,” het me. Jelliman gesê.

“Sy maak seker dat sy almal in die familie gereeld skakel, al vra sy dan net vir hulle hoe dit gaan.”

Hoewel me. Wehmeyer moeilik loop, is daar verder niks fout met haar gesondheid nie en sy kan nog baie dinge van haar verlede onthou.

Die waardevolste les wat die lewe haar geleer het, is om op te staan en aan te gaan.

“Hê geloof en moet nooit opgee nie,” het me. Wehmeyer gesê.

Sy hou daarvan om te bak en brou en lees ook graag fiksie-boeke.

Sy lees nog elke oggend die koerant en weekliks haar gunsteling tydskrifte.

Sy hou ook van naaldwerk en hekel steeds graag.

“My ma help nog met naaldwerk, herken almal, gebruik haar slim-selfoon, lees e-boeke, ontvang video-oproepe op WhatsApp en lees daagliks haar Bybel,” het me. Jelliman gesê.

“My ma bid in die oggende en in die aande en ons bedien haar in die oggende met tee in die bed en maak lekker ontbyt.

“Sy geniet ook graag ‘n glasie sjerrie elke aand saam met haar aandete.”

Iets wat me. Jelliman by haar ma geleer het, is dat ‘n mens altyd netjies moet wees en familie altyd eerste moet stel.

“Ons is so geseënd om haar nog in ons lewens te hê en ons wens haar ‘n gelukkige jaar toe op haar verjaarsdag.

“Mag sy nog lank vir ons gespaar bly.”

Me. Amelia Wehmeyer met ‘n reuse bos blomme op haar 103de verjaardag op Vrydag, 22 Mei.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version