Covid-19: Skole maak skoon en berei voor vir heropening

Skole maak self plan met tonnels en toerusting

HOëVELD – Hoewel die Departement van Onderwys hul besluit om skole op Maandag, 1 Junie vir matriek- en gr.7-leerders te heropen, weer verander het en met ‘n week aangeskuif het, het baie skole op Bethal en Secunda reeds voorberei en was gereed om Maandag hul deure oop te maak.

Laerskool Marietjie van Niekerk is dankbaar teenoor AfriForum se Bethal-tak wat hul skool, asook verskeie ander skole in die omgewing, verlede week reeds skoongemaak het.

Mnr. Morné Scholtz, hoof van Laerskool Marietjie van Niekerk, het gesê AfriForum het uit hul pad gegaan om die skool te help om die terrein en geboue te ontsmet sodat dit veilig is wanneer die leerders en onderwysers weer na die skool terugkeer.

AfriForum het dié skool ook gehelp om geld in te samel met die aankoop van ‘n deurstap-tonnel wat leerders en besoekers met die ontsmettingsproses sal help.

Smet Jet het Laerskool Secunda gehelp om dié skool gereed te kry en skoon te maak om weer te begin.

Jim van Tonderskool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes is ook reeds voorbereid vir as leerders Maandag sou terugkeer.

Oriëntering, sowel as skandering van al dié skool se personeel, is reeds gedoen en intekenregisters en vraelyste is ook reeds in plek waar leerders geskandeer sal word as die skole weer heropen.

Jim van Tonderskool het ook reeds selfgeboude ontsmettingstonnels by die skool aangebring waardeur leerders sal beweeg.

Me. Madeleine Kruger, skakelbeampte van dié skool, het gesê dit sal ‘n moeilike taak vir leerders wees om ‘n sosiale afstand te hou, veral in die skool se koshuis.

Mnr. Peet Stoop van Bugs B Gone ontsmet een van die klaskamers by Hoërskool Oosterland verlede week. Die stof wat uit die masjien kom, is ’n manier om die klas te ontsmet.

“Daarom het ons besluit op ‘n infaseringsplan wat leerders op ‘n tweeweeklikse basis sal laat terugkeer skool toe in ‘n rotasiemodel,” het me. Kruger gesê.

“Sodoende sal daar slegs 50 persent van ons skool se leerders by die skool en by die koshuis wees.”

Die skool het reeds ontsmettingskedules uitgewerk en die nodige toerusting aangekoop buiten die handskoene en weggooibare gesigmaskers wat die Departement van Onderwys voorsien het.

“Protokol vir Covid-19 sal ten alle tye gevolg word om ons personeel en leerders te beskerm.”

Laerskool Goedehoop se skoonmakers met hul sertifikate van Smet Jet wat hulle ontvang het nadat hulle verlede week opleiding gekry het om dié skool daagliks ’n diep skoonmaaksessie te gee.

Privaatskool Hoëveldrif is ook gereed en het reeds al hulle Covid-19-regulasies in plek en die skool is deur die personeel en AfriForum ontsmet.

Al hul leerders moet maskers dra, sowel as die personeel en almal se temperatuur sal daagliks gemeet word.

Hoërskool Hoogenhout se beheerliggaam het reeds twee ontsmettingstonnels, spuite en infrarooi-termometers vir dié skool aangekoop en die skoolgebou, busse, koshuise en pawiljoene is reeds ontsmet.

Hoogenhout se bestuur het reeds ‘n volledige plan in plek volgens die regering se voorskrifte.

Mnr. Barry Marais van Bugs B Gone ontsmet een van die klaskamers by Hoërskool Oosterland verlede week. Die stof wat uit die masjien kom, is ’n manier om die klas te ontsmet.

Hoërskool Oosterland het van hul personeellede na opleiding wat deur die Departement van Onderwys gereël is, gestuur op Kinross verlede week waar sekere prosedures en reëls wat skole moet volg, gekommunikeer is.

Me. Liné de Vries, skakelbeampte, het gesê dié skool is ook reeds deur ‘n profesionele skoonmaakdiens ontsmet.

Mnr. Danie Heese, hoof van Laerskool Kruinpark, het gesê dié skool is ook reeds gereed om weer oop te maak.

“Laerskool Kruinpark is ontsmet en ons het voldoende seep en handreiniger, maskers is aangekoop en veiligheidtoerusting vir werkers is in plek,” het mnr. Heese gesê.

“Alle protokol en toerusting vir ontvang van personeel en leerders is in plek.

“Ons wag net vir die departement se toerusting wat moet kom.

“Die veiligheid van ons personeel en leerlinge is ons eerste prioriteit.”

Hoërskool Hoogenhout se ontsmettingstonnel is ook gereed.

Hoërskool Secunda is ook gereed vir die skool se heropening.

Al die klaskamers by dié skool is reeds gewas en die klasse is geherrangskik volgens sosiale afstand sodat daar op die meeste 24 leerders in ‘n klas is.

Dié skool se personeel het aanlyn opleiding gekry oor Covid-19-reëls en regulasies.

Oranjegloed het ook plakkers en plakkate gedruk om leerders van sosiale afstand in te lig en te herinner om gereeld hande te was en higiëne toe te pas en maskers te dra.

Die ontsmettingstonnel by Laerskool Marietjie van Niekerk op Bethal waar leerders verby gaan loop om ontsmet te word.

Laerskool Secunda is ook gereed om hul deure weer te heropen en die skool is van hoek tot kant ontsmet in samewerking met Smet Jet Africa. Die skool het ‘n amptelike sertifikaat van sanitasie ontvang. Daar is ook plakkers oor sosiale afstand by die skool aangebring en die hoof, me. Marietha Cole en haar span het seker gemaak elke klas het genoeg handreiniger en dat daar duidelike prosedures in plek is wanneer die leerders by die skool af- en opgelaai word.

“Dit is duidelik dat ons, wanneer die skool weer begin, ‘n nuwe normaal sal beleef,” het me. Cole gesê.

“‘n Omgewing waar ons almal ‘n baie beduidende rol speel in die uitdagings wat Covid-19 bring.”

Laerskool Goedehoop se personeel het ook die nodige opleiding gehad om te verseker dat dié skool gereed is om weer oop te maak.

Dié skool se skoonmakers het verlede week sertifikate ontvang vir opleiding wat hulle voltooi het om daagliks diep skoonmaak van die skool te doen wat insluit dat die stoele, tafels, deure en handvatsels behoorlik skoongemaak word.

Carinlize en Ewaldt Muller, twee leerders van Hoërskool Hoogenhout is gereed om terug te gaan skool toe.

Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news

Dear reader,
As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version