DA-koukusleier spreek hom sterk uit teen water- en elektrisiteitsprobleme op Standerton

Die ondraaglike toestande waaronder die inwoners van Standerton moet leef, kan eenvoudig nie meer geduld word nie,” het mnr. De Ville gesê.

Mnr. Rosier de Ville, DA-raadslid in Wyk 10, het op 18 Mei ’n persverklaring uitgereik waarin hy die situasie rakende watervoorsiening en kragonderbrekings bespreek.

“Die inwoners van Standerton is nou keelvol vir die Lekwa Munisipaliteit se gebrek aan dienslewering,” het mnr. De Ville gesê.

“Die dorp is ’n toonbeeld van swak bestuur met dienslewering wat uiters swak is, die verskaffing van water en elektrisiteit wat onbetroubaar is en die onderhoud van infrastruktuur wat totaal afwesig is.”

Die verklaring het bygevoeg dat inwoners, volgens inligting, planne beraam om hulle ontevredenheid duidelik te maak deur die weerhouding van munisipale geld.

“As openbare verteenwoordiger kan ek nie dié aksie goedkeur nie, maar my empatie is totaal en al by inwoners wat ontevrede is.”

Volgens hom, is dit eenvoudig nie goed genoeg dat elektrisiteitstoevoer saans in die omgewing van 6nm afgeskakel word nie.

Die gebrek aan vooraf kennisgewing sodat die nodige voorbereiding gedoen kan word, is ook genoem.

Mnr. De Ville het gewys op die ongerief wat dit veroorsaak. Die verklaring het voortgegaan met verwysing na sommige dele van die dorp, wat vir dae sonder water is en ook klagtes oor watergehalte, wat na bewering, gevaarlik is vir menslike gebruik.

“Daarbenewens loop rou riool ook in ons strate af. Dit is onaanvaarbaar dat die eens pragtige Standerton tot hierdie verleentheid verval het.

“As raadslid versoek en pleit ek nou al jare by die ANC-beheerde raad dat iets gedoen moet word om dienslewering te verbeter en daarom het ek groot simpatie met die inwoners. Die ondraaglike toestande waaronder die inwoners van Standerton moet leef, kan eenvoudig nie meer geduld word nie.”

In die persverklaring is ook gewys op inwoners wat vir dienste, wat nie gelewer word nie, betaal.

“Met frustrasievlakke wat baie hoog is, inwoners wat planne maak om hulle misnoeë te wys indien die dienste nie gelewer word nie, gaan daar gemobiliseer word en geld vir dienste gaan teruggehou word,” het mnr. De Ville mee afgesluit.

“Inwoners glo dat hulle op dié wyse die munisipaliteit sal dwing om gehoor te gee aan hulle versoek tot beter dienslewering. Inwoners se regte moet gerespekteer en eerbiedig word.

“Die Demokratiese Alliansie sal aanhou druk op die raad en die munisipale bestuurder sit om te probeer seker maak dat geld korrek geallokeer word, en dat gehalte basiese dienste gelewer word in die Lekwa Munisipaliteit.”

Lees ook: Inwoner van Standerton raadop met rioolvuil wat huisfondasies laat kraak

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version