Jayden Pieterse sal eers op vyf milt-operasie kan kry

Ma kyk voltyds na enigste kind

SECUNDA – Jayden Pieterse (4) sukkel al sedert hy twee jaar oud is met sy gesondheid en moes al verskeie noodoperasies ondergaan.

Sy ma, me. Ame Pieterse, het agtergekom daar is fout toe hy twee jaar oud was en bloed opgegooi het.

Hulle het hom na die ongevalle-eenheid van die hospitaal geneem en later na ‘n ander hospitaal oorgeplaas waar hy met Portale Hipertensie gediagnoseer is.

Jayden se portale aar is seergemaak toe hy in Februarie 2016 op 36 weke gebore is en mediese personeel ‘n voedingspyp in sy naeltjie moes plaas.

Hy moes na sy geboorte eers tyd in die neo-natale waakeenheid van die hospitaal deurbring voordat hy kon huis toe gaan.

Die besering wat die pypie veroorsaak het, het gelei tot lewerprobleme en ‘n vergrote milt.

Jayden se milt het verlede jaar verder vergroot en ander organe weggedruk.

Sy lewer funksioneer nie soos dit moet nie en sy milt word oorlaai met afvalstowwe wat nie verwerk kan word nie.

Die aartjies in die slukderm vanaf die keel bou dus blasies op wat, as dit bars, kan veroorsaak dat Jayden homself doodbloei.

Hy was vanjaar reeds twee keer weer in die hospitaal, een keer om schlero-terapie te ondergaan om spatare in sy keel af te bind om te voorkom dat hy weer begin bloed opgooi en dat sy bloedplaatjies val.

Hy moes op 28 April weer hospitaal toe gaan toe ‘n aar probleme begin gee het en mediese personeel dit moes afbind om te keer dat Jayden begin bloei.

Me. Pieterse het gesê verder vorder haar seuntjie goed, maar as die skole weer heropen sal hy nie kan terugkeer nie omdat sy imuunstelsel te swak is.

“Dokters het dit aanbeveel dat hy nie teruggaan skool toe nie,” het me. Pieterse gesê.

Sy bloedplaatjietelling is steeds laag, maar bykans normaal vir sy toestand en sy HB-telling het ook goed opgetel na 11.8. Sy ystertelling is tans 4.

Sy vergrote milt sal eers verwyder kan word as hy vyf jaar oud is.

“Daarom is dit baie belangrik dat ons hom nou teen alle moontlike infeksies beskerm.

“Hy is ons enigste kind.”

Me. Pieters bly voltyds tuis om na Jayden om te sien en haar man, mnr. Victor Pieters, is die enigste broodwinner vir die gesin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version