Local newsNews

Helpende Hand kry ’n verdere R5 miljoen vir kos

“Baie meer gesinne en instansies kan nou gehelp word en daarom sal ons enige dreigende nasionalisering en staatsbeheer van kosskenkings aan ons teenstaan.”

Die organisasie, Solidariteit Helpende Hand, het danksy die hulp van die publiek en die privaat sektor, sedert die inperking begin het, bykans 5 000 gesinne in nood bygestaan.
Helpende Hand het ook gesorg dat 350 instansies wat ouetehuise en kinderhuise insluit, se spense vol bly.
Helpende Hand het onlangs ’n skenking van R5 miljoen se kosvoorraad van die Douw Steyn-familietrust, Steyn City Properties en Telesure Investment Holdings (TIH) ontvang, skaars ’n week nadat dié trust en maatskappye R2 miljoen se kos aan Helpende Hand geskenk het om landwyd te versprei.
“Die bykomende skenking is ’n getuigskrif dat ons strukture werk, effektief en betroubaar is,” het mnr. Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, gesê.
“Baie meer gesinne en instansies kan nou gehelp word en daarom sal ons enige dreigende nasionalisering en staatsbeheer van kosskenkings aan ons teenstaan.”
Me. Mariana Kriel, Helpende Hand se streekskoördineerder van Gauteng-Noord, het by ’n pakhuis in Pretoria die skenking ontvang, waar daar bontgestaan is om die grootskaalse skenking te verdeel sodat 5 000 gesinne in verskeie provinsies dié week ’n kospakkie ter waarde van R1 000 kan ontvang.
“Ons kry nou nuwe versoeke, dis ’n ander soort armoede op die oomblik,” het me. Kriel gesê.
“Ons ontvang aansoeke van gesinne wat nie gewoond is om te vra of nie kos te hê nie.
“Dit is middelklas-gesinne wat eers kos gehad het en kon oorleef, maar weens die pandemie is hulle laaste kos klaar en daar is nie ’n inkomste om nog aan te koop nie.
“Bejaardes in selfsorgeenhede sukkel ook omdat hul ondersteuningsnetwerke nie meer daar is nie.”
Toe die staat van inperking ingestel is, het die Solidariteit Beweging sy Krisisfonds van stapel gestuur wat grootliks aangewend word om Solidariteit Helpende Hand se voedingskemas te ondersteun, asook om leerders deur Wolkskool met behulp van hul aanlyn klasse by te staan. Met die jongste skenking staan dié fonds nou op sowat R14,5 miljoen.
Mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid wat saam met Helpende Hand en die familieboerenetwerk, Saai, ’n taakspan gestig het om kos veilig te versprei, het gesê tot dusver het hul strukture gesorg dat kos veilig uitkom waar dit moet.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die nood in die gemeenskap is en bly groot.
“In dié krisistyd moet hulp nie gesentraliseer word nie, maar moet gemeenskappe juis in staat gestel word om mekaar te help,” het dr. Hermann gesê.
“Hierdie reuse skenking van die Steyn-familietrust stel die gemeenskap in staat om dit te doen.”
Helpende Hand wil verwarring opklaar deur die publiek in kennis te stel dat die Solidariteit Beweging se Krisisfonds nie met die regering se Solidarity Fund (Solidariteitfonds) verwar moet word nie.
Besoek www.krisisfonds.co.za om die Solidariteit Beweging te ondersteun.

Helpende Hand kry nog kosskenkings

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button