Terapeute gesels met leerders oor gesonde gewoontes

Die terapeute het oor die nuutste navorsingsstatistieke oor die invloed van skermtyd op kinders en gesinne gepraat

SECUNDA – Laerskool Secunda het oonlangs met plaaslike terapeute hande geneem en ‘n inligtingsaand by die skool aangebied om leerders slim-gereed te kry.

Die terapeute het oor die nuutste navorsingstatistieke gepraat oor die invloed van skermtyd op kinders en gesinne.

Me. Danile Neethling, spraakterapeut en oudioloog, het die impak van te veel skermtyd op die lang termyn met leerders bespreek asook die belangrikheid van kommunikasie, storietyd en oogkontak tussen kinders en ouers beklemtoon.

Me. Ilidia Lambrechts, dieetkundige, het leerders idees oor gesonde, lae G.I. maaltyde gegee en redes verskaf hoekom dit beter keuses is.

Sy het ook voorbeelde van gesonde kosblikke, wat leerders self kan inpak, gegee asook die hoeveelheid suiker en die risiko’s daarvan as mens te veel suiker inneem, beklemtoon.

Me. Minette Schneider, biokinetikus, het gesê dit is belangrik dat leerders beweeg om sodoende ‘n gebalanseerde leefstyl te handhaaf.

Sy het praktiese voorbeelde van hoe leerders meer kan beweeg, gegee wat in en om die huis of in die klaskamer uitgevoer kan word.

Me. Igna Beukes, opvoedkundige sielkundige, het die aand afgesluit en realistiese riglyne vir ouerskap gegee.

Sy het gesê dit is die ouer se verantwoordelikheid om hul kinders te leer hoe om in staat te wees vir die lewe daar buite en om ‘n wenner te wees volgens die vermoë van elke kind.

Al vier dié terapeute het gemeen dat kinders deesdae te veel skermtyd en te min gesinstyd en oefentyd het.

Hulle het gesê dit het ‘n negatiewe impak op gesondheid, die fisiese en geestelike welstand van die kind en dit kniehalter hul akademiese prestasies.

Exit mobile version