Local newsNews

Richard Rossouw kweek groot vlapampoen

Man oes grootste vlapampoen vir seisoen naby Trichardt

TRICHARDT – Mnr. Richard Rossouw was al lief vir tuinmaak toe hy nog ’n kind was en met grootouers aan beide kante wat op plase gewoon het, het hy baie tyd in die groentetuin deurgebring.

“My oupa het ’n mooi groentetuin op die plaas gehad en ek het hom altyd gehelp om wortels te pluk,” het mnr. Rossouw gesê.

Hy het onlangs die grootste vlapampoentjie (patty pan) vanuit sy groentetuin op ’n plot tussen Trichardt en Bethal geoes.

Mnr. Rossouw het ’n groentetuin met beet, mielies, boerpampoene en ander kleiner pampoensoorte op dié plot.

Hy het gesê die vlapampoentjies wat hy gewoonlik oes, is die helfte kleiner as die kneuwel wat hy onlangs gepluk het.

Dié vlapampoentjie het nie eers in mnr. Rossouw se tuin waar die ander pampoentjies geplant is, gegroei nie.

“Dit het sommer tussen my komkommmers begin opkom en toe los ek hom maar,” het mnr. Rossouw vertel.

“Dit was my laaste patty pan vir die seisoen.”

Mnr. Rossouw het nou saad vir die groot oranje pamoene wat gewoonlik in Amerika groei, gekoop en wil dit in die volgende seisoen plant en kyk wat gebeur.

Hy sal in die begin van September die grond begin voorberei en dit teen die einde van September plant.

Mnr. Rossouw glo die belangrikste deel van ’n groentetuin is die voorbereiding.

“Die grond moet goed voorberei wees.”

Hy werk al die afgelope 10 jaar as bestuurder vir ’n industriële onderneming op Sasol en boer in sy vrye tyd met die groente en ook skape op die plot.

Sy vrou, me. Jolene Rossouw, is ook lief vir tuinmaak en hulle werk graag saam aan hulle blommetuin.

Mnr. Rossouw het in die Oos-Kaap grootgeword, maar woon al sedert 1993 in die omgewing.

Hy het eers op Bethal gewoon en later na die plot tussen Trichardt en Bethal verhuis.

Hy is lief vir die buiteluglewe en in sy vrye tyd geniet hy dit om vis te vang, te skiet saam met die skietklub op Breyten of om te jag.

Mnr. Richard Rossouw met die groot vlapampoentjie (patty pan) wat hy op sy plot buite Trichardt geoes het.

Related Articles

 
Back to top button