Local newsNews

Oupa word 90 jaar oud en woon steeds op Bethal

Egpaar is bykans 65 jaar getroud

BETHAL – Mnr. Mattheüs Pieterse het op Sondag, 26 Januarie, 90 geword.

Hy het dié spesiale geleentheid saam me sy vrou, me. Ria Lotz (86), hul kinders, kleinkinders, vriende en geliefdes in die NG Kerk Bethal-Oos-gemeente se saal gevier.

Mnr. Pieterse was in 1966 een van die stigterslede van dié gemeente.

Hy is in 1930 op Amersfoort gebore en het op dié dorpie sy laer- en hoërskoolloopbaan voltooi.

Hy het na skool saam met sy pa gaan boer op die plaas Klipplaatdrift buite Amersfoort en het dit ook geniet om rugby te speel.

Hy het sy vrou, wat destyds ‘n sekretaresse by die laerskool was, ontmoet en die egpaar is op 19 Maart 1955 getroud.

Hulle vier vanjaar hul 65ste huweliksherdenking.

Mnr. Mattheüs Pieterse en sy vrou, me. Ria Pieterse (middel) by hul kinders en kleinkinders. Hulle is (voor) mnr. Janneman Snyman, me. en mnr. Pieterse en mnr. Mardu Swanepoel. Agter is mnre. Willie Swanepoel, Abrie Swanepoel, me. Alta Swanepoel, me. Leana du Plooy en mnre. Willem du Plooy en MG Snyman.

Hulle het destyds as jong getroudes na Bethal verhuis en op die plaas Haarlingen geboer totdat hulle afgetree het.

Die egpaar woon sedert 1999 by Palmoord Ouetehuis op Bethal.

Hulle het twee dogters, me. Leana du Plooy en me. Alta Swanepoel, twee skoonseuns en ses kleinkinders.

Mnr. Pieterse het vroeërjare baie insette op Bethal gelewer en was baie betrokke in die gemeenskap, sy kerk, die skole en landbou.

Hy is vandag steeds ‘n ouderling in die kerk.

Sy dogter, me. Du Plooy, het gesê hy word geken en gerespekteer in die gemeenskap as ‘n mens wat met dankbaarheid lewe en hy weet waar sy krag vandaan kom.

“Alle eer aan die Here vir soveel genade deur my pa se lewensjare,” het me. Du Plooy gesê.

Sy het gesê vir haar ouers se 65ste huweliksherdenking gaan die familie almal saam uiteet om dit te vier.

Mnr. Mattheüs Pieterse het op Sondag, 26 Januarie, 90 geword. Hiér is hy en sy vrou, me. Ria Pieterse.
Mnr. Mattheüs Pieterse het op Sondag, 26 Januarie, 90 geword. Hiér is hy en sy vrou, me. Ria Pieterse.

Related Articles

 
Back to top button