Local newsNews

Jason English van Standerton se operasie het goed afgeloop

Standerton se gemeenskap ondersteun die gesin en onderskraging kom steeds uit alle oorde, met ’n dokter op die dorp wat Jason se medisyne toegedien het.

Jong Jason English van Standerton se behandeling vir sarkomakanker is steeds volstoom aan die gang, maar die goeie nuus is dat sekere van die onkoste vanaf April verlede jaar gedelg is.

Sy stryd het begin met sporadiese oorpyne wat ma, Mariaan, genoop het om werk van die saak te maak, eers by ‘n plaaslike dokter, daarna ‘n oogkundige nadat sy linkeroog skeelgetrek het, tot by ‘n spesialis in Pretoria.

Die destydse diagnose van ‘n virus wat Jason se sentrale senustelsel aangeval het, ‘n positiewe toets van die herpes-virus, aanvra van’n breinskandering deur ‘n internis, tot by bevestiging van ‘n gewas in die sinusholte van die linkeroog het gevolg.

‘n Operasie was onomkeerbaar waarvan die dag diep in Mariaan se geheue ingeëts is.

“Dit was die ergste dag van my lewe,” het Mariaan tydens die vorige onderhoud gesê.

Pediatriese onkoloë het die sarkoma behandel en 29 sessies bestraling by die Unitas Hospitaal was in die vooruitsig.

Chemoterapie was nog vir 11 maande nodig.

Jason English net voor die operasie in die Life Groenkloof Hospitaal plaasgevind het. (Foto: Verskaf)

Die mediese span het uit ‘n neurosjirurg, neuroloog, internis, oor-, neus- en keelspesialis, pediater en narkotiseur bestaan.

‘n Motorfietsklub op die dorp het ‘n inisiatief einde Augustus geloods waar voertuie gewas is en die geld oorbetaal sou word om die mediese onkoste te dek, terwyl BackaBuddy ook Jason se penarie raakgesien het.

Die gesin se verblyfkoste, tolgeld en dieseluitgawes wat die afgelope maande betaal moes word, was bykomend tot die mediese rekeninge.

Standerton se gemeenskap ondersteun die gesin en onderskraging kom steeds uit alle oorde, met ‘n dokter op die dorp wat Jason se medisyne toegedien het.

Ma en seun was op Maandag 27 Januarie weer onderweg na Pretoria om uitsluitsel te kry of Jason weer geopereer gaan word.

Die ouers van die kankerlyertjies het ‘n noue band gevorm en deel hul ervarings.

“Tussen die trane deur, kry jy altyd iets om oor te lag,” het Mariaan gesê.

“Die kinders in die onkologiesaal kry ‘cravings’, maar Jason is net die ‘vienna’-outjie.”

‘n Spesialis het Jason op Woensdag 12 Februarie in die Life Groenkloof Hospital in Pretoria gesien en ‘n operasie het op Donderdag 20 Februarie plaasgevind, waar slegs met instrumente in die neusholte ingegaan is.

‘n Breinskandering het ook gevolg en aggressiewe chemoterapie lê nou voor.

“Die operasie het goed afgeloop hoewel Jason ‘n ligte graad van longontsteking opgedoen het,” het Mariaan gesê.

Sy het kiertsregop langs haar seun se bed gewaak.

“Baie dankie aan almal se sms’e, WhatsApps en oproepe ter ondersteuning,” het Mariaan mee afgesluit.

“Dit beteken baie vir ‘n mens.”

Lees ook:

https://standertonadvertiser.co.za/95176/jason-english-ontvang-chemoterapie-na-bestralingsessies-voltooi/

Related Articles

 
Back to top button