Sophia se ouers wil kursus in Amerika voltooi om haar beste behandeling te gee

Dié kursus vind einde September in Amerika plaas en dit sal die egpaar sowat R160 000 kos om dit by te woon.

SECUNDA – Me. Carien Möller en haar man, mnr. Jaco Möller was verheug in 2018 toe hulle uitgevind het me. Möller is swanger met ‘n dogtertjie.

Hul seuntjie, Jaco, was toe reeds vyf jaar oud en bly dat hy ‘n sussie gaan kry.

Die gesin het eers op Secunda gewoon, maar het so twee jaar gelede na Pretoria verhuis.

“Ek het net geweet dit was my klein dogtertjie waarvan ek gedroom het drie weke voordat ek uitgevind het ek is swanger,” het me. Möller gesê.

“My swangerskap met Sophia was gesond en het goed verloop, ek het goed gelyk en gevoel.

“Ek het gereeld ondersoeke by die vroedvrou en ginekoloog gehad en die ondersoeke het aangedui dat Sophia mooi groei en alles was normaal.”

Sophia Möller en haar boetie, Jaco Möller (5).

Me. Möller het, toe sy 38 weke en vyf dae swanger was, op 11 Julie verlede jaar, in kraam gegaan.

“Alles het baie vinnig gegaan en hoewel ek onthou hoe verskriklik die kraampyne was, het ek probeer om gefokus te bly.

“Sophia is kort voor 1nm gebore, maar toe die vroedvrou haar op my bors gesit het, het sy glad nie gereageer nie.

“Ek het met haar gepraat en haar rug gevryf om ‘n reaksie te kry.

“Die vroedvrou het vir Sophia opgetel, geluister vir ‘n hartklop en vir haar suurstof gegee, maar die kleinding het nie gereageer nie.

“Hulle het haar op die bed neergelê om hartmassering toe te pas omdat sy die ligte hartklop wat sy gehad het, verloor het.”

Me. Möller het na ‘n kaartjie wat agter haar in die bad gehang het waarop Psalm 46:5 geskryf was, gelees en begin bid.

“Ek het in tale begin bid en die Here vertrou om die onmoontlike met Sophia te doen.”

Een van die vroedvroue het vir me. Möller gesê Sophia het steeds nie ‘n hartklop nie, maar me. Möller het net aanhou bid.

“Sophia het skielik ‘n hartklop gekry, maar ons moes bly bid vir haar sodat sy op haar eie kon asemhaal.

“Soos wat ons vir die Here se wil oor haar lewe gebid het, het Sophia begin om self asem te haal.

“Ek het die Here vertrou vir ‘n wonderwerk en Hy het opgedaag en ons klein dogtertjie terug gebring.”

Sophia het tydens geboorte te min suurstof na haar brein gekry en dit het erge breinskade veroorsaak.

Die neuroloog het gesê hy vermoed sy het serebrale kwadruplegie opgedoen.

Dit sou beteken, om te praat, loop en om sekere mylpale te bereik wat baba’s van haar ouderdom bereik, dalk nie moontlik sou wees nie en die kans dat sy epileptiese aanvalle sal kry, is goed.

Haar vermoë om te herken wat sy proe, sien of hoor is ook aangetas.

Sophia Möller en haar boetie, Jaco Möller (5).

Sophia het wel in die volgende paar maande aan haar ma se borste gedrink, iets wat dokters voorspel het sou nie moontlik wees nie.

“Sy het ook begin glimlag en geluide gemaak. Hoewel ons dié verskriklike diagnose oor ons dogtertjie gekry het, het ons besluit om God te bly vertrou vir bo-natuurlike genesing.”

Die Möller-egpaar het die afgelope naweek (21-23 Februarie) ‘n kursus in Pretoria deur die Family Hope Centre bygewoon wat hulle sal help hoe om Sophia te hanteer.

Hulle wil graag die opvolgkursus, wat persoonlike evaluasie insluit, asook hoe om die beste moontlike behandeling vir haar te gee, bywoon.

Dié kursus vind einde September in Amerika plaas en dit sal die egpaar sowat R160 000 kos om dit by te woon.

Belangstellendes wat Sophia wil ondersteun, kan me. Möller skakel by 081 046 4829.

Mnr. Jaco en me. Carien Möller met hul dogtertjie, Sophia.
Exit mobile version