Local newsNews

Hond is bykans 20 jaar oud

Boeboe speel nog graag bal of met ’n leë Coke-bottel

BETHAL – Mnr. Pieter Fourie se hondjie, Boeboe, ‘n kruising tussen ‘n Jack Russell en ‘n foksterriër, word vanjaar 20.

Mnr. Fourie het Boeboe gekry toe sy net vier weke oud was en hy het gesê sy verjaar op 12 April.

Hy het destyds ‘n foksterriër vir sy suster, wat ook op Bethal woon, gegee en dié hond het kleintjies gekry en mnr. Fourie het vir sy suster gesê hy soek een van die kleintjies.

Mnr. Fourie het nog twee ander Jack Russells, Milo en Chloe, wat heelwat jonger as Boeboe is. Boeboe kry geen spesiale kos nie, sy kry tafelkos en hondekorrels wat mnr. Fourie by mnr. Frikkie Jacobs op Bapsfontein koop.

Al drie mnr. Fourie se hondjies slaap op die bed, maar op hul eie kombersie.

“Daar is nie ‘n manier dat ek my honde buite sal laat slaap nie.”

Hoewel Boeboe bykans 20 jaar oud is, speel sy steeds graag met ‘n tennisbal of ‘n leë Coke-bottel.

“As ek nie met haar wil speel nie, vat sy self die bal of Coke-bottel en gooi hom in die lug. Sy gedra haar soos ‘n vierjarige kind as dit by speel kom.”

Toe mnr. Fourie met sy vorige werk gereeld meel in die stad afgelewer het, het Boeboe graag saamgery Gauteng toe en in die voertuig gewag.

“Ek het dan vir haar ‘n waterbakkie saamgeneem en as ek nie vinnig genoeg vir haar water kon ingooi terwyl ek bestuur nie, het sy die bakkie opgetel en bo-op my skoot neergesit,” het mnr. Fourie vertel.

“Ek het naderhand geleer hoe om in die ry vir haar water in haar bakkie te gooi, ek het natuurlik baie kere gemors ook as ek dit so moes doen.”

Hy het sy voertuig oop gelos as Boeboe saamgery het en hy êrens moes stop.

“Niemand sou naby die voertuig kom of dit probeer steel nie, want Boeboe het dadelik alarm gemaak as iemand net naby my voertuig gekom het.”

Mnr. Pieter Fourie met sy hondjie, Boeboe, wat al bykans 20 jaar oud is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button