Local newsNews

Wayne Jansen van Rensburg is ses maande buite aksie na motorfietsongeluk

Die Van Rensburgs behoort nie aan 'n mediese fonds nie en rekeninge stroom nog daagliks in om die koste te dek, wat reeds op meer as R500 000 te staan kom.

Wayne Jansen van Rensburg se been was dalk ernstig beseer na sy motorfietsongeluk op 26 November op Middelburg, maar sy geloof is geensins aan skerwe nie.

Tussen hom en sy vrou, Christie, pak hul die lewe aan met volle geloofsvertroue en Jes. 49:16 se boodskap van ‘n naam wat ingekerf is, het nuwe betekenis gekry.

Wayne het sy droom vanaf 17-jarige ouderdom vervul om ‘n professionele liggaamsbouer te word en het met onderskeiding verlede jaar aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Spanje deelgeneem.

Na sy vertoning in die ‘Classic Physique’-afdeling, spog hy nou met Protea-kleure, maar sy kleure was geen skans teen ‘n motoris wat hom raakgery het.

Hy het ‘n ses-maande-kontrak by ‘n myn as elektriese fasiliteerder uitgedien nadat hy vir die periode November 2018 tot Augustus verlede jaar werkloos was.

Sy 1000cc-Kawasaki was daardie oggend net na 7 nie opgewasse teen die aanslag nie, maar van moed opgee, is egter min.

Wayne Jansen van Rensburg op die kruin van sy loopbaan in Spanje verlede jaar. (Foto: Verskaf)

“Ons sien die groter prentjie,” het Christie laat blyk.

Die beserings het ingesluit ‘n been wat op 10 plekke gebreek is, ‘n gebreekte regterarm en ‘n gewrig uit sy potjie, wat intensiewe mediese behandeling vereis het.

Die Van Rensburgs behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en rekeninge stroom nog daagliks in om die koste te dek, wat reeds op meer as R500 000 te staan kom.

Wayne is vir ses maande buite aksie wat beteken dat hy glad nie op sy voet mag trap nie en krukke en ‘n rolstoel word ook ingespan om hom gemaklik te hou.

Die derdeparty-eis word deur ‘n prokureur hanteer.

Albei het Facebook-profiele vir enigeen wat met hulle in verbinding wil tree.

“Ek glo die Here gaan my genees,” het Wayne gesê.

“Dit is nie die einde nie.”

Christie wou ten slotte almal, wat reeds bygedra het, bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button