Local newsNews

Gert Mocke hanteer nou rekenkundige sake by die ouetehuis

Hy het nie ’n probleem gehad om die presiese datums van sy werksloopbaan te onthou nie, asook geleenthede in die korporatiewe rekenkundige wêreld wat sy pad gekruis het nie.

Mnr. Gert Mocke wat sowat ‘n paar weke gelede diens by die Kosmos Aftree-oord as finansiële beampte aanvaar het, se grondige kennis van rekenkundige praktyke en sakevernuf strek oor ‘n paar dekades.

Die bestuurder van die tehuis, mnr. Jack la Grange, het sy insig in boekhoustelsels en kennis van debiteure en krediteure as insiggewend beskryf.

“Vir die eerste keer is ek rustig dat die rekenkundige stelsel reg bedryf sal word,” het Jack gesê.

Nadat mnr. Mocke hom eers vir twee tot drie weke deeglik vergewis het van die die amp by die tehuis, het hy formeel begin.

Gert het destyds aan Hoërskool Dr Malan op Meyerton sy matrieksertifikaat ontvang, kort daarna het hy skouer aan die wiel gesit en by ‘n ouditeursfirma sy klerkskap voltooi, terwyl hy deeltyds ‘n B.Com-graad by die Vaal Pukke, Noordwes-Universiteit verwerf het.

Dienspligjare is by SARS in 1990 deurgebring waar hy nou gemoeid met Suid-Afrika se oorskakeling na die BTW-stelsel was, maar sy ambisie het ingesluit om sy eie onderneming te bestuur, wat met die totstandkoming van sy eie rekenkundige praktyk bewerkstellig is.

“Ek wou graag my eie praktyk hê,” het Gert laat blyk.

Hy het nie ‘n probleem gehad om die presiese datums van sy werksloopbaan te onthou nie, asook geleenthede in die korporatiewe rekenkundige wêreld wat sy pad gekruis het nie.

Dié kans om sy vaardighede verder te slyp is nie goedsmoeds afgeskryf nie en selfs ‘n aflegging het oor sy pad gekom.

‘n Klein sakebelang op Standerton sluit in sy herwinningsbesigheid en met dié inisiatief bevredig hy sy behoefte om ander mense te help, wat nou aanklank by sy sterk geloof vind.

Gert en Susan, van ambulansdienste-faam, sal in Desember twee jaar getroud wees en het altesaam vyf kinders uit vorige huwelike, wat dit ‘n huisvol kinders kan maak by familiegeleenthede.

Hy speel graag skaak om die aandag heeltemal af te lei en sal sy drie seuns moontlik in skaakmat kan sit.

Vir dié syferman is familietyd kosbaar, dis nou te sê as die roepstem van sy ander stokperdjie, die teel van windhonde, hom nie lok nie.

Gert het 10 diere op die dorp en ‘n stuk of 20 op ‘n plaas in die Koppies-omgewing.

Maar wat het nou van lynnatmaak geword vir die man wat nou uit ‘n groot versameling net met vier visstokke vang?

Hy kan net tyd vir hengel en sy diere inruim op Saterdae en dié keuse moet liefs aan hom oorgelaat word.

Sy eerstehulpkursusse kom handig te pas as hy by die Jeria-span tydens sportgeleenthede aansluit.

Gert gee uiting aan sy kreatiwiteit met ‘n digbundel wat in wording is, waarvan Susan al sommige onder oë gehad het.

Die maandelikse koerantjie by die aftree-oord sal van sy gedigte publiseer.

Gegee sy vasberadenheid en werksywer, gekoppel met ‘n kalm lewensbenadering, is uitdagings moontlik sy kos.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button