Local newsNews

‘Ongenooide’ tamatieplant skietwortel in binnehof

Die Slabberts was skoon verbaas oor die grootte en die spoed waarteen die tamatieplant uitgerank het. Dit beslaan nou ’n groot deel van die sementblad en groei welig.

SECUNDA – ‘n Tamatieplant het op een of ander wyse wortelgeskiet in ‘n piepklein stukkie grond in die sementblad rondom die wasgoedpaal in die Slabberts se binnehof.

Mnr. Duif en me. Maureen Slabbert vermoed ‘n voël het moontlik ‘n saadjie net voor die winter hier aangedra.

Hul tuin is juis ‘n lushof van plante en ‘n ideale speelplek vir gevlerktes in Witzenbergstraat.

“Ons het al voorheen vreemde verskynsels in die tuin gehad, soos ‘n botterskorsie wat tussen die blomme uitgekom het, maar hierdie tamatie is werklik iets vreemds vir my,” het me. Sabbert vertel.

Sy het ‘n “groen hand” en is lief vir tuinmaak.

Me. Maureen Slabbert soek ‘n vrug uit aan die tamaai tamatieplant wat in ‘n stukkie grond van sowat 4cm in hul binnehof wortelgeskiet het.

“Ek stap gereeld in die tuin en kyk watter nuwe verrassing vir my wag.

“Daar is altyd ‘n nuwe blommetjie of iets uniek wat ek nie self aangeplant het nie.

“Ek weet wat in my tuin is, want ons was die heel eerste inwoners hier.

“Alles wat aangeplant is, is deur my gedoen.

“Ek weet dadelik wanneer iets hier groei wat ek nie geplant het nie.”

Volgens me. Slabbert is dit net asof plante by haar floreer.

Mnr. Duif Slabbert wys die tamaties wat hy van die ongenooide tamatieplant gepluk het.

Die Slabberts was skoon verbaas oor die grootte en die spoed waarteen die tamatieplant uitgerank het.

Dit beslaan nou ‘n groot deel van die sementblad en groei welig.

“Ek sien die plant brand op die warm sement en ons sal aan ‘n oplossing moet dink om dit op te lig,” het mnr. Slabbert gesê.

Dosyne groen tamaties hang aan die pant en die Slabberts het reeds ‘n paar sappige rooies geoes.

“Die tamaties is vreemd in vorm.

“Dit is asof die vrug riffels het.

“Ons het al op die internet naslaanwerk gedoen, maar kan nie vir seker sê watse soort tamaties dit is nie.

“Ons het ook al gehoor dit is vollop in Griekeland.”

Die tamaties is dalk vir die Slabberts ‘n vreemde verskynsel, maar dit het nie die egpaar verhoed om aan die vrugte te proe nie.

“Oee, dit is die heerlikste tamaties wat ek nóg geproe het,” het me. Slabbert gesê.

Mnr. Duif Slabbert wys die tamaties wat hy van die ongenooide tamatieplant gepluk het.
Die tamaties se patroon is vir me. Maureen Slabbert tog te mooi.

Related Articles

Back to top button