Local newsNews

Oumas en Oupas word in Secunda met Kersparty bederf

Sy het die bejaardes gevra om wenslysies in te vul en het dit toe aan vrywilligers in Secunda gegee wat vir elke persoon ’n geskenk gekoop het.

SECUNDA – Meer as 100 bejaardes is met eetgoed en geskenke bederf op ‘n Kerspartytjie wat op Saterdag, 7 Desember in Davieshof Dienssentrum se saal aangebied is.

Dié partytjie is deur me. Paula Wright en me. Phyllis Brink beplan.

Hulle het slegs ‘n paar maande gelede die Ouma en Oupa-Kersgeskenkprojek in Secunda begin waar hulle die bejaardes in die dorp, ondermeer by Davies Courts, Dra Mekaar en TerraNova-aftreeoord gevra het wat hulle vir Kersfees wou hê.

“Dit het op my hart gedruk dat ek iets vir die oues moes doen,” het me. Wright vertel.

Sy het die bejaardes gevra om wenslysies in te vul en het dit toe aan vrywilligers in Secunda gegee wat vir elke persoon ‘n geskenk gekoop het.

Diegene wat nie geskenke gekoop het nie, het bygedra met allerlei eetgoed vir die partytjietafels en boonop is ekstra kos ingesamel om behoeftige bejaardes te help.

Me. Wright het ná die partyties by TerraNova op 30 November, en Davieshof Saterdag, elke skenker van geskenkpakkies bedank.

Sy het ook dankie gesê aan Dadiva, Kardoesie Tysnywerheid, die anonieme skenkers wat nie bederfbare kos afgelaai het, familielede, vriende en kollegas wat met alles – van reëlings tot opruimingswerk – gehelp het en ook Ridge Times.

“Dankie ook aan Oom Loggie en Tannie Ina vir die agtergrondmusiek en Tannie Estelle Hyland vir al die hulp met die reëlings en briefies uitdeel.” Sy en haar span beoog om weer volgende jaar dit aan te pak.

Die Kersboom is toegepak met geskenke vir die bejaardes.
Me. Annie Swart is baie bly oor die koek wat sy ontvang het. Sy het op haar wenslysie aangedui dat sy na so ‘n roomkoek smag.
Me. Martie Lombaard ontvang ‘n geskenk van me. Willaine Bok.
Me. Engela Janse van Rensburg gee vir Nathan Brink ‘n groot soen vir ‘n dankie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button