Sanja Vermaak reik uit na vroue en kinders

Me. Vermaak is sedert haar kinderdae by welsynwerk betrokke met ’n ma wat altyd uitgereik het in haar gemeenskap.

SECUNDA – Me. Sanja Vermaak (63) is al die afgelope drie jaar die voorsitter van Famsa op Secunda.

Sy en haar man, Johan, het in 1978, toe daar nog nie gras of bome op Secunda was nie, Sasolburg vir Secunda verruil.

“Hier was nog net grond en turf toe ons destyds hierheen getrek het,” het me. Vermaak vertel.

Sy onthou nog destyds toe sy en haar man met ’n bus na Secunda gekom het.

“Dit was nie so mooi plek nie, maar vandag is dit ’n lieflike dorp.”

Me. Vermaak het op ’n plaas naby Ellisras grootgeword en ná skool as sekretaresse by ’n staatsdepartement begin werk.

Sy het destyds toe die egpaar vir drie jaar vir Sasol gewerk en mnr. Vermaak was een van die Sasol-personeellede wat die aanleg op Secunda aan die gang moes kry.

Me. Vermaak het ná drie jaar by Sasol, by Marietjie Skool aangesluit as sekretaresse vir 20 jaar en dit later vir ’n werk by ’n sielkudige verruil waar sy vir 11 jaar gewerk het.

Sy het afgetree toe dié sielkundige verhuis het.

Me. Vermaak is sedert haar kinderdae by welsynwerk betrokke met ’n ma wat altyd uitgereik het in haar gemeenskap.

Sy het by Famsa betrokke geraak toe die aktrise en motiveringgspreker, Natasha Sutherland, op Secunda was en mense aangemoedig het om Famsa vrywilligers te word.

“As vrywilligers het ons gehelp waar hul hulp nodig gehad het,” het me. Vermaak gesê.

Sy doen bemarking vir Famsa en help met projekte.

Sy is ook nou betrokke by die ondersteuning van vroue en kinders.

Me. Vermaak het eers as voorsitter van Famsa waargeneem en was sedertdien op die bestuur, maar is eers drie jaar gelede as voorsitter gekies.

In haar vrye tyd geniet me. Vermaak dit om te lees en die egpaar reis graag.

Hulle was al in Thailand, Duitsland, Zambië, Angola en Suid-Korea.

Mnr. Vermaak het vir ’n rukkie in Suid-Korea gewerk en dié tyd wat die egpaar in ’n vreemde land gewoon het, was vir me. Vermaak baie interessant en leersaam.

Die egpaar het ’n huis op Nylstroom waar hulle ook graag tyd bestee, veral in die winter wanneer dit daar warmer is as op Secunda.

Hulle het nooit kinders van hul eie gehad nie, maar me. Vermaak se broers- en susterskinders en kleinkinders is soos haar eie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version