Jy kan steeds tot Kersfees-projek vir bejaardes bydra

“Ons vra die gemeenskap om ons met lekkernye, koeldrank en alles wat partytjies pret maak, te help.”

SECUNDA – Jy het steeds tyd om tot die Ouma en Oupa-geskenkprojek by te dra.

Hoewel bykans 150 bejaardes in Secunda en Trichardt se Kerfeesgeskenke reeds opgemaak is, kan enigeen steeds help deur nie-bederfbare kos en toiletware aan die oues van dae te skenk.

Me. Paula Wright en me. Phyllis Brink bestuur hierdie projek in Secunda.

Die oorspronklike Ouma en Oupa-geskenkprojek wat in Pretoria begin is, het me. Wright so geraak dat sy die organiseerders genader het om die projek ook in Secunda aan te pak

Die vroue het briefies aan die bejaardes by Davies Court-woonstelle en ook ander organisasies, soos Dra Mekaar, uitgedeel waarop hulle ’n Kersfeeswenslysie moes skryf. Dié briefies is reeds terugontvang en verskeie individue het reeds die spesiale geskenke vir elk van die Oupas en Oumas saamgestel.

Me. Wright het vertel dat die reaksie vanuit die gemeenskap oorweldigend was en sy het elkeen wat bygedra het, bedank.

Sy het intussen besef die nood is heelwat groter as net ’n Kersgeskenk.

“Die meeste bejaardes benodig kos en toiletware. Ons het dus besluit om voort te gaan met die insameling van nie-bederfbare kos, toiletware en selfs saadjies vir Davies Courts se groentetuin.”

Sy en haar spannetjie het ook besluit om die geskenkpakkies aan die oues op ’n spesiale partytjie uit te deel.

“Ons vra die gemeenskap om ons met lekkernye, koeldrank en alles wat partytjies pret maak, te help.”

’n Partytjie word ook vir die inwoners van die aftree-oord by TerraNova beplan. “Sommige van die bejaardes hier is werklik eensaam en sal ’n geselsie en samesyn baie waardeer.”

Die geleentheid hier word vir 30 November om 2nm beplan.

Die partytjie by Davieshof Dienssentrum vind op 7 Desember om 2nm plaas.

Mense wat kos en toiletware wil skenk, tot die partytjies wil bydra of tyd aan die oumense wil afstaan, kan vir me. Wright skakel by 072 475 7865 of vir me. Brink by 082 497 6426.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version