Hooflanddros tree af na byna 25 werksjare

Fauresmith-dae is tydens die onderhoud onthou as die plek waar die gesin middagetes aan tafel saam kon eet en níé voor die televisie nie.

Standerton se hooflanddros, mnr. Theo Nel wat in Januarie volgende jaar 25 jaar in die landdrosstoel sake sou beslis het, sal einde Oktober die tuig neerlê.

Dié regsman het by die Departement van Justisie as klerk in Desember 1972 begin, gevorder na beheerbeampte, aanklaer en landdros en is deeglik onderlê in die allerbelangrike administratiewe sy van die professie.

Theo het ‘n B.Iuris-graad deur Unisa verwerf en is terdeë bewus van die uitdagings wat ‘n voltydse werk en na-ure studies behels.

Sy loopbaan het gepaard met ‘n duisternis verplasings gegaan wat soos ‘n aardrykskunde-oefening klink, Douglas, Mafeking nou Mahikeng, Schweizer-Reneke, Ermelo, Bloemfontein, Welkom, Warmbad, Fauresmith.

Theo en sy vrou Ann, is in Schweizer-Reneke getroud en die twee kinders, Lézel en Derrik, is op Ermelo gebore.

Fauresmith-dae is tydens die onderhoud onthou as die plek waar die gesin middagetes aan tafel saam kon eet en níé voor die televisie nie.

“Die wye vlaktes en die veiligheid bly my by,” het hy gesê.

Die kinders het na skool met hul fietse kon ry en dit laat staan, tipies plattelands, voor die algemene handelaar, wat ook die skoolhoof was, wat dan die fietse in hul afwesigheid in die winkel sou toesluit.

In die jare het die Nels gehuur, in staatshuise gebly en gekoop met die voordeel van staathuise natuurlik dat jy nie nagte moes wakker lê om jou huis in die mark te sit en dan verkoop te kry nie.

“Dit was maar ‘n frustrasie,” aldus Theo.

Die Bloemfontein-tydperk se Botshebelo-pendel op die ‘pad van die dood’ vir die inspektoraat, was ‘n rillertyd.

Met ‘n gedesentraliseerde kantoor in Bloemfontein is die groot taak afgehandel om die administratiewe en hofpersoneelgedeelte te beoordeel en in teorie was Theo ‘n week weg en ‘n week terug.

“Op ‘n stadium was ek vir ses agtereenvolgende weke nie by die huis nie.”

In weerwil van die kinders se aandrang dat hul ouers Standerton vaarwel moet roep, is die Nels so ingeburger op die dorp dat verhuising nie ‘n opsie is nie.

“Ek weet wie is wie en weet waar alles is,” het hy laat blyk.

Nou lê die groot lekker van houtwerk voor in sy dubbelmotorhuis wat propvol gereedskap is, reg vir die saag op die draaibank.

“Ek kon altyd gedurende werkstye daarmee afsluit juis vanweë die konsentrasie wat geverg word.

“Dit is ook bevredigend om na die eindproduk te kyk.”

Theo luister na enige soort musiek wat in sy woorde ‘georganiseerde chaos’ is en is ‘n boekwurm, die hele Deon Meyer-oeuvre is weer aangepak en hy volstaan by die genot om ‘n roman vir ‘n tweede keer te lees.

“My gunsteling leestyd is vroegoggend.”

Die woonwa gaan ook gepak word om die hele land plat te ry en sy gereedskapkissie daar is groter as die huis s’n.

“Ann wou aanvanklik niks weet van ‘n woonwa nie, maar ek het oë toegeknyp en sy het dit die eerste keer geniet.

“Jou vakansie begin reeds as jy die woonwa begin pak.”

Theo en Ann, wat ook aftree, het deur die jare Vrydagaande oopgehou in hul onderskeie besige programme.

“Terwyl ons nog krag het, kan ek ons die aftrede geniet,” het my mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version