Past Neels Beyers begin nuwe kerk op Secunda

Kerk stig nuwe gemeente in Botswana ook

SECUNDA – Past. Neels Beyers het sowat ‘n maand gelede die Koinonia Christelike Kerk (KCK) op Secunda gestig.

Hy het 30 jaar terug as ‘n jong volwassene sy hart vir die Here gegee en is nou al 26 jaar in die bediening.

Past. Beyers se paadjie met die Here het in 1989 begin toe ‘n vriend hom ná ‘n jeugdiens in Pretoria genooi het.

Hy het toe as bewaarder vir die Baviaanspoort-gevangenesdiens gewerk.

“Ek het in my hart gevoel die Here roep my vir die bediening ses maande nadat ek tot bekering gekom het,” het hy vertel.

“Ons het elke oggend om 5vm Bybelstudie gedoen en ek het ‘n teksvers gekry en gevoel die Here daardeur met my praat.”

Past. Beyers het met sy jeugpastoor gaan praat en oor die saak gebid en vir die Here gesê as dit ‘n roeping op sy lewe is om bedening toe te gaan, soek hy ‘n kans om mense te bedien.

“Ek was die een Sondag by die gevangenis aan diens en die sendeling wat vir die gevangesse moes kom preek, het nie opgedaag nie en die lid in bevel het gesê ek moet toesig hou oor die groep wie se sendeling nie opgedaag het om vir hulle te preek nie.

“Ek het vir die gevangenes gesê die sendeling het nie opgedaag nie en hulle het my eintlik uitgedaag en gevra hoekom lees en bid ek nie vir hulle nie.

“Ek wou eers nie en het vir hulle gesê ek is ‘n bewaarder nie ‘n predikant nie, maar toe voel ek in my hart, dit is ‘n kans.

“Dit was asof die Here vir my gesê het: ‘Jy vra dan vir ‘n kans, en hier is nou een’.”

Past. Neels Beyers het onlangs die Koinonia Christelike Kerk (KCK) op Secunda gestig.

Past. Beyers het toe die gevangenes bedien en was eers in die moeilikheid by sy bestuurder, maar later het hy saam met die kapelaan van die gevangenis gewerk en gereeld bedien, en selfs ‘n selgroep in die gevangenis begin.

“Ek weet tot 10 jaar gelede, het dié selgroep steeds bestaan, maar ek weet nie of dit vandag nog bestaan nie,” het past. Beyers gesê.

Hy het later die gevangenesdiens verruil en teologie begin studeer by die Volle Evangelie Kerk se teologiese kollege.

Past. Beyers se bediening het gegroei en hy het onlangs ook ‘n Koinonia Christelike Kerk in Lobatse in Botswana gestig.

Hy preek om die beurt elke tweede Sondag op Secunda en in Botswana.

Die kerk in Botswana het tans sowat 20 lidmate en sover past. Beyers weet, is dit die enigste Afrikaanse Pinksterkerk in Botswana.

“Een van die boere in Botswana ry elke tweede Sondag sowat 800km vanaf die noorde in Botswana na die suide om kerk toe te kom.

“Hier in Secunda het mense hoeveel kerke om hulle, maar hulle wil nie gaan nie. In Botswana is mense bereid om so ver te ry om ‘n kerkdiens by te woon.”

Hy het mense genooi om sy gemeente op Secunda by te woon.

Hul dienste is op Sondag om 9vm en 7nm en Woensdagaande om 7nm.

Dié nuwe gemeente wat uit sowat 30 geregistreerde lede bestaan, kom tans by ‘n huis in Colensostraat byeen en enige iemand is welkom om dié dienste by te woon.

Past. Beyers het benadruk dat die Koinonia Christelike Kerk ‘n Pinksterkerk is en nie ‘n charismatiese kerk nie.

“Ons is oop vir God se Geeswerke, maar God se Gees werk volgens die Bybel en nie op enige ander maniere nie.”

Die Koinonia Christelike Kerk glo in die goddelike drie-eenheid, die Vader, Seun en die Heilige Gees, dat Jesus die enigste weg na die Vader is, aan die werking van die Heilige

Gees asook die gawes van die Heilige Gees, in die groot doop en in die doping deur die Heilige Gees.

Lidmate van dié kerk gaan binnekort op hul eerste gemeentekamp wat in Botswana plaasvind.

Vir meer inligting, skakel past. Beyers by 073 797 8802.

Past. Neels Beyers het onlangs die Koinonia Christelike Kerk (KCK) op Secunda gestig.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version