Boere kan nog nie plant nie en water is min

"Hoe nader ons aan die einde van die jaar beweeg, hoe minder tyd is daar om mielies te plant wat 'n gesonde oes sal lewer."

HOëVELD – Nog baie reën sal moet val voordat die droogte gebreek is.

So meen dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van die Suid-Afrikaans Agri Inisiatief (SAAI), ‘n instansie wat op die behoud van familieboere fokus.

Volgens hom is dit vanjaar baie droog en boonop is die reën, wat volgens ‘n boer-spreukwoord “altyd teen Oom Paul se verjaardag (10 Oktober) kom, ” laat.

“Hoe nader ons aan die einde van die jaar beweeg, hoe minder tyd is daar om mielies te plant wat ‘n gesonde oes sal lewer.

“Die verwagting is dat ons eintlik ‘n goeie reënjaar sal beleef.”

Volgens dr. De Jager kyk landbouers op die Oostelike Hoëveld ook reeds na alternatiewe oeste, soos sonneblomme wat nie so dringend soos mielies in die grond moet kom nie.

“Boere het egter drie groot bekommernisse oor die huidige weerpatrone,” het dr. De Jager verduidelik.

“Al het ons reën ervaar, beteken dit geensins dat die droogte al gebreek is nie.”

Dr. De Jager het ook gesê daar is nie finansiële instansies soos banke wat die boere gunstig is nie.

“Die finansiele instansies pas nou eerder druk toe op die boere wat nog nie geplant het nie, en die landbouers vrees nog skuld wat hulle dalk nie sal kan afbetaal nie.”

Dr. De Jager het verduidelik dat baie boere nie lig in die tonnel sien nie, en dus is daar tans ook ‘n toename in selfdood onder landbouers.

“Die staat staan tans koud teen die boere se swaarkry, teenoor vorige bedelings waarin die regering die boere ondersteun het.”

Volgens dr. De Jager is die land se damvlakke ook kommerwekkend.

“Ons damvlakke was laas in 1992 so laag en daardie tyd het die regering nog ingegryp,” het hy gesê.

Ridge Times se susterskoerant, die Hoëvelder in die Ermelo-omgewing, het berig dat boere sowat 50mm reën benodig om graanaanplantings te begin, en daarna meer gereelde ligte reënbuie.

Mnr. Henry Geldenhuys, adjunk-president van TLU SA, het aan die Hoëvelder gesê dat ten spyte van die droogte wat hier ervaar word, ons steeds beter af is as sommige boere in ander dele van die land.

Hy het bygevoeg dat boere wat later plant, moet waak teen saaddiefstal en het verwys na ‘n saak waar daar onlangs sowat R800 000 se saad op ‘n plaas naby Standerton gesteel is.

Die regering blyk bekommerd te wees oor die drastiese daling in watervlakke in die land se damme.

Minister van Water en Sanitasie Lindiwe Sisulu, het Maandag ‘n dringende vergadering met die media aangevra om oor die maatreëls wat ingestel moet ten einde water te bespaar, te praat. Die uitkoms van hierdie vergadering was teen druktyd nog nie bekend nie.

Daar is reeds die afgelope twee weke bid-aksies vir reën aangevra.

Mnr. Kosie van der Merwe, ‘n bekende boer in die Trichardt-omgewing, meen selfs die veeboere trek swaar.

“Dit reën nie gras nie. Die weiding kom eers op nadat dit gereën het.”

Volgens mnr. Van der Merwe wil dit voorkom of hierdie plantseisoen met sowat ‘n maand aangeskuif het.

“Hoe langer ons vir die reën wag, hoe later kom jou saad in die grond en hoe minder tyd het jy om die plantproses te voltooi.”

Hy is egter optimisties oor die sterk wind wat nou pal vanuit die Noorde oor die Hoëveld waai.

“Hier broei iets.

“Ek glo dat wanneer die reën gaan val, gaan dit emmers gooi,” het mnr. Van der Merwe op Maandag, 28 Oktober,
gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version