Uys-susters verstewig vriendskapsbande nog al die jare

Al vier sibbe het twee kinders en die bloedlyn is voortgesit met 16 kleinkinders wat dalk ’n meet en pas kan afgee vir die Uys-Kersfees, wat elke tweede jaar plaasvind.

Met ‘n totaal van 14 jaar se gesamentlike skoolopleiding by Hoërskool Standerton tussen die vier Uys-susters van Standerton, is 105 jaar se klasgee op hul kerfstok.

Dit kan dalk vermeerder as ‘n mens me. Suzette van der Merwe se aflos by skole in ag neem en me. Patricia Baker se leeskliniek op die dorp bytel.

Hulle het grootgeword op ‘n plaas 14km op die Robertsdrift-pad, deel van die familieplaas Rietpoort, en was koshuisbrakke met die een verskil.

In Patricia se tyd is hul een week in die maand op ‘n Vrydag huis toe, want debat, volkspele en die fliek het gewag, terwyl Suzette, Lucia en Maryna die veranderde skoolskedule van buitemuurse aktiwiteite Donderdagaand beleef het.

Terug by die somme.

Al vier sibbe het twee kinders en die bloedlyn is voortgesit met 16 kleinkinders wat dalk ‘n meet en pas kan afgee vir die Uys-Kersfees, wat elke tweede jaar plaasvind.

Hulle het ook vir jare almal in Julie die Kruger Wildtuin besoek.

Die bloedverwante is vriende en die susters was dit eens dat Maryna reg was met die opmerking dat hulle baie afhanklik van mekaar is vanweë ma Lizzie se dood toe Patricia 17 was en die res 11, 9 en 7.

Dieselfde belangstellings word gedeel en tuinmaak kan uitgesonder word as meer as net ‘n stokperdjie, maar deel van hul leefwyse.

Tersiêre onderrig het die Uyse na skool ingewag en die destydse Heidelbergse Onderwyskollege, voormalige Goudstad Onderwyskollege en Universiteit van Pretoria was waar studentejare deurgebring is, met twee grade en twee diplomas wat in ontvangs geneem is.

Hulle het opgang in dieselfde sportsoort, naamlik hokkie, gemaak en provinsiale kleure verwerf, almal was middelvoor en het die kragmetings teen ons buurdorp, Volksrust, soos gister onthou.

Patricia, Suzette, Lucia en Maryna het ook leierposisies in sowel die hoërskool as laerskool beklee en o ja, al vier is lidmate van die Klipkerk op Standerton.

Donkiejare later, is hulle duidelik elkeen ‘n individu in eie reg, maar moontlik het Patricia dit die beste bewoord:

“Ons kan nou lag oor ons sukkel en swaarkry toe ons grootgeword het”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version