Local newsNews

Predikantsvrou kry mooimaaksessie na moeilike tyd

Arbeidsterapeut geniet werk by Marietjie Skool

SECUNDA – Die kans om op die televisieprogram, Glam Guru wat op Sondagaande op KykNet uitgesaai word, te verskyn, het net op die regte tyd gekom vir predikantsvrou, me. Leani Swart.

Die afgelope vier jaar van haar en haar gesin se lewe was rof.

Sy het in 2015 gereeld hoofpyne begin kry, gesukkel met nekspasma en het ‘n naalde- en spelde-gevoel in haar gesig gekry. Sy het agtergekom sy hoor nie lekker as die leerders van Laerskool Secunda, waar sy vir sowat ‘n jaar as arbeidsterapeut gewerk het en skoolgehou het, met haar praat nie.

Sy het vir ‘n gehoortoets gegaan wat getoon het dat sy ‘n verlies in haar gehoor het en sy is na ‘n spesialis verwys.

Die spesialis het gesê, die Menierre-sindroom wat sy net na haar jongste seuntjie, Luan (nou 10) se geboorte gehad het, het weer opgevlam.

Me. Leani Swart en haar man, ds. Cobus Swart voordat sy gewig verloor het en ’n mooimaaksessie by Glam Guru gehad het.

“Die spesialis wou vir my kortisoon gee, maar ek het gesê nee, want ek het dit toe reeds gebruik toe my kinders jonger was en dit het my baie gewig laat optel,” het me. Swart vertel.

Sy is later vir ‘n skandering gestuur en die dokter het gesê sy het ‘n gewas van 3cm op haar gehoor-senuwee en sal vir ‘n breinoperasie moet gaan.

“Ek wou niks weet nie en het vir die dokter gevra wat is die alternatief, want ek het nie kans gesien vir ‘n breinoperasie nie.

“Ons was oppad na George vir ons jaarlikse Desember-vakansie en ek het die dokter gevra of ek my vakansie sou moes kanselleer. Hy het gesê ek kan met vakansie gaan, maar sal hom moet gaan sien as ek terug is. Ek het toe besluit om ‘n gebedsgroep op WhatsApp te begin en mense gevra om saam met my te bid.”

Me. Swart het eers nie besef hoe ernstig die grootte van die gewas is nie. Met hul terugkeer van vakansie, het die dokter se ontvangsdame haar op ‘n Sondagaand geskakel om haar afspraak, wat eers vir die einde Januarie in 2016 geskeduleer was, te vervroeg.

Die dokter het later vir me. Swart gesê die grootte van die gewas was kommerwekkend en dat dit sou kon veroorsaak dat sy enige oomblik net kon doodgaan.

“Die pennie het toe eers by my ‘gedrop’,” het me. Swart vertel.

Sy is op 21 Januarie in 2016 in vir die operasie wat 12 ure geduur het.

“Ek het daar gelê voor die operasie en gedink as die Here my nou wil kom haal, is dit reg.”

Sy het egter goed aangesterk ná die operasie en het dieselfde jaar weer by Marietjie Skool begin werk.

Van die nagevolge van die operasie was dat sy na die tyd doof sou wees in haar een oor, of verlamming in haar gesig kon ondervind.

“Ek het gedink as ek doof is in my een oor ,is dit okay, want ek kon in elk geval voor die operasie nie lekker met daardie oor gehoor het nie.” Me. Swart het toe die gehoor in haar linkeroor verloor, maar sy kry ná die operasie nie meer hoofpyn nie en ondervind nie meer van die ander probleme wat sy voor die operasie gehad het nie.

Sy gebruik tans ‘n gehoorapparaat.

Haar man, ds. Cobus Swart, predikant by die N.G. Kerk Secunda-Oos-gemeente, het in 2016 agtergekom hy sukkel ook om te hoor en is met oto-sklerose gediagnoseer wat veroorsaak het dat sy gehoorbeentjie verhard. Hy het ook ‘n keuse gehad om vir ‘n operasie te gaan, maar daar was geen waarborg dat hy ná die operasie sou kon hoor nie.

Hy kon ná die operasie steeds nie hoor nie en moet ook nou ‘n gehoorappaat gebruik. Toe me. Swart se ma verlede jaar in Julie dood is, was dit ook vir haar ‘n moeilike tyd, want haar ma was haar steunpilaar.

Die gesin het ook deur ‘n traumatiese tyd gegaan in November verlede jaar, in die middel van die seuns se eksamentyd, toe inbrekers by hul huis ingebreek het en hul 16-jarige seun CJ, op hulle afgekom het. Die diewe het laat spaander toe hulle CJ sien en almal was ongedeerd.

Nóg ‘n uitdaging het die gesin getref toe hul jongste seuntjie, Luan, verlede jaar in Desember tydens die gesin se jaarlikse vakansie in George, met sy fiets teen ‘n muur vasgery het.

Hy het drie frakture in sy oogkas en bloeding op die brein opgedoen. Die Swart-egpaar en ds. Swart se tweelingbroer en sy vrou het gaan stap terwyl die seuns met hul fietse gaan ry het.

Me. Leani Swart soos wat sy deesdae lyk.

“Ek het nie my selfoon by my gehad nie. Iemand het my skoonsus geskakel en gesê een van die seuns het met sy fiets geval,” het me. Swart vertel.

“Ek het eers nie gedink dit is so ernstig nie totdat die vrou gesê het hy het ‘n hoofbesering nie. Toe het ek begin hiperventileer.”

‘n Mediese student in sy sesde jaar het op die twee seuns afgekom waar hulle langs die pad gesit het, en het noodhulp toegepas.

Luan is hospitaal toe geneem. Hy was gedurende die hele proses by sy volle bewussyn.

“Dit het die dokers verbaas, want daar was ‘n ander kind wat ook in die intensiewe sorg-eenheid in ‘n koma was. Die dokter het gesê hy kan nie glo dat Luan nie soos daardie kind, ook in ‘n koma is nie.”

Die volgende 48-uur was baie spanningsvol vir die Swart-gesin omdat dokters in dié tyd sou besluit het of hulle op Luan sou opereer of nie.

Die dokters het besluit om nie te opereer nie en was verbaas dat hy teen die begin van die nuwe jaar reeds soveel beter gedoen het met geen bloeding op die brein nie en die drukking was ook weg.

Luan is in die middel van Februarie weer terug skool toe. Hy mag nie meer aan kontaksport soos rugby, deelneem nie, maar hy geniet nou ander sportsoorte en stokperdjies.

Me. Swart het verlede jaar, voor haar ma se dood, besluit dit is weer tyd om gewig te verloor en het by Slender Slimming aangesluit.

Me. Margie van Straaten van Slender Slimming, wat haar gehelp het om gewig te verloor, het sonder me. Swart se medewete, ‘n motiveringsbrief vir die televisiereeks, Glam Guru wat op Sondagaande om 5.30nm op KykNet uitgesaai word, gestuur.

Teen die tyd wat me. Swart vir ‘n onderhoud na Glam Guru gegaan het, het sy reeds 25kg verloor.

“Hannon het my gevra hoekom hy my moet kies vir die program en ek het vir hom gesê ek voel goed oor myself, want ek het so baie gewig verloor,” het me. Swart vertel.

“Hy het gesê ek moet hom vertel hoe ek so baie gewig verloor het en ek het hom vertel van my pad die afgelope paar jaar en van my breinoperasie.”

Die vervaardigers van die program het me. Swart ‘n week later laat weet sy is gekies.

Dit is gevolg deur drie dae van verfilming en mooimaaksessies in Junie. Een van dié dae wat as die profieldag bekendstaan, voer die kameraspan onderhoude met die deelnemers se gesinne en besoek hul huise.

“Hulle het my seun, Philip, wat eintlik ‘n introvert is, gevra hoekom hy dink sy ma die mooimaaksessie nodig het en ek was so aangedaan deur sy antwoord.

“Hy het gesê sy ma is mooi genoeg en het nie so ‘n sessie nodig nie.

“Hy het later gesê hy dink dit sal my goed laat voel om ‘n mooimaaksessie te kry.”

Me. Swart beskryf dié dag in die ateljee as haar Aspoestertjie-dag en het gesê teen middernag daardie aand toe sy weer in haar bed klim, was sy weer net Leani.

“Dit was ‘n lekker ondervinding vir my.

Ek wil vroue herinner om hul vroulikheid en seksualiteit te omhels. Pas jouself op, kyk na jouself en kyk na jou huwelik en gesin.

“Die Here het nogal ‘n sin vir humor om my, ná vier jaar van ‘n moeilike tyd in my lewe, op nasionale televisie te laat verskyn.”

Me. Swart het tot dusver al 30kg verloor en kyk die lewe weer vierkantig in die oë.

Sy het op Sondagaand, 20 Oktober haar verskyning op die kassie gemaak.

Me. Leani Swart voordat sy gewig verloor het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button