Selfs oorloë oorleef en vanjaar vier Trichardtsfontein Nederduitsch Hervormd Kerk 140 jaar

Die gemeente was op 22 November 1979 'n eeu oud en vanjaar vier dié gemeente hul 140ste bestaansjaar op 25 en 26 Oktober.

TRICHARDT – Meeste inwoners en verbygangers is bewus van die groot kerk wat se toring hoog bo ander geboue uitsteek, maar weet hulle werklik hoeveel geskiedenis tussen die klippe vasgemessel is?

Die gemeente was op 22 November 1979 ‘n eeu oud en vanjaar vier dié gemeente hul 140ste bestaansjaar op 25 en 26 Oktober.

Die hoeksteen van dié kerkgebou, die klein gebou agter die kerk, is op Maandag, 30 April 1883 gelê.

Jare se oorloë, ‘joiners’ se toedoen, verskeie gemeente-vergaderings, bou en herbou het dié gemeente gemaak wat dit vandag is.

Here Peel en Laing het ‘n stuk grond op Trichardtsfontein, vir die bou van ‘n kerk aan die gemeente geskenk.

Die kerk kon op 6 Desember 1884 ingewy word en daar is besluit dat die ouderlinge op elke eerste Sondag van die maand die erediens sou lei.

Met vele kerkraadsvergaderings, is uiteindelik besluit dat die kerk se naam Nederduitsch Hervormd sal wees.

Die Tweede Vryheidsoorlog het sy letsels aan die kerkgebou en gemeente gelaat.

Gedurende dié oorlog is die kerk in Junie 1901 opgeblaas.

L.A.J.J. Nieuwenhuizen, skriba van 1955 tot 1971 en ouderling van 1955 tot 1971, het oor dié gebeurtenis as volg berig:

“Op ‘n dag het die Engelse by ons kerkie in Trichardtsfontein afgesaal en kamp opgeslaan. By hulle was ‘joiners’ wat gemeentelede van ons kerk was. ‘n Stuk of sewe van dié ‘joiners’ het die kerk opgeblaas en die Engelse het glo gelê soos hulle lag. Hulle het vermoed dat daar geld onder ‘n groot lang klip, wat hulle gedink het die hoeksteen was, versteek is. Dit was nie die hoeksteen nie. Hulle het daarna die dak aan die brand gesteek, die banke uitgegooi en party na die konsentrasiekamp op Standerton geneem.”

Die Oupa Van Nieuwenhuizen was in dié konsentrasiekamp op Standerton.

Dit is hier waar hy ‘n paar van die kerkbanke gesien het en vir ‘n Engelse-offisier gevra of hy dit nie aan hom wil verkoop nie, die offisier het gesê: “…if you want it, you can have it.”

Met ‘n muilwa het hy die banke van Standerton na sy plaas gebring, dit was ‘n stuk of twintig banke.

Nadat herstelwerk aan die kerkgebou gedoen is, kon dit weer op 28 Julie 1906 ingewy word.

Omdat die kerkgebou nie ‘n konsistorie gehad het nie, is ‘n tent gebruik wat aan die suidooste kant van die kerk gestaan het.

Dié tent is van 1903 tot 1932 gebruik, maar eindelik gedurende 1932 is ‘n konsistorie gebou.

Ook die ou kerkklok het ‘n besondere stuk geskiedenis gedurende die oorlog van 1899 tot 1902 deurgemaak.

Mnr. Martiens (86) en me. Hentie Louwrens (87) is twee van die kerk se oudste en langste lewende lidmate. Mnr. Louwrens is gedoop en voorgestel in Trichardtsfonteingemeente.

Ouderling G.P. Roets het op 25 Desember 1893 as Kersfeesgeskenk dié klok met ‘n D-majeur klank aan die kerk geskenk.

Gedurende die oorlog is die kerkgebou verwoes, geplunder en die klok afgeruk, waarna dit met Engelse magte meegevoer is.

Die vermoede is dat die Rhodesian Mounted Rifles die klok geneem het, omdat dit so ver as Bulawayo gegaan het.

In 1903 is die klok in Bulawayo ontdek en dit is na Mafikeng gestuur waar die koster dit in ontvangs moes neem.

Met sy aankoms was die klok in ‘n Engelse soldate-verblyfplek toegesluit.

Hy moes eers sê wat op die klok gegraveer staan – hy het dit op papier neergeskryf waarna die klok aan hom oorhandig is.

Op Mafikeng het hy ‘n baie goeie kas gekry waarin die klok na Standerton gestuur is. Die klok het egter op die spoorweë weer weggeraak en eers einde 1904 op Standerton van Pietermaritzburg af aangekom.

In Oktober 1961 het die klok vir die laaste keer op Trichardtsfontein gelui.

Na veel rondswerwing het dit eindelik ‘n laaste staanplek by die S.P. Engelbrecht-museum van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika gekry.

‘n Groter en nuwe kerk moes gebou word en tydens ‘n gemeentevergadering op 27 Oktober 1956, was daar gebesluit deur die gemeente sonder teenstem om ‘n nuwe kerk te bou.

Die bouprojek het so vinnig gevorder dat hulle op 7 April 1958 besluit het dat die afskeidsdiens van die ou kerkgebou op Sondag, 11 Mei 1958 sal plaasvind.

Omdat die gemeente vanjaar 140 jaar oud is, sal groot fees gevier word.

Hulle skop met ‘n bring en braai op Vrydag, 25 Oktober om 6nm af.

Richard van der Westhuizen, Hein en Charné vermaak besoekers tydens Saterdag, 26 Oktober se feesvieringe.

Radio Kragbron saai vanaf die feesvieringe uit en uitstallers sal allerhande lekkernye vanaf 8vm uitstal.

Andries Vermeulen tree Saterdagaand, 26 Oktober by Lake Umuzi in Secunda op en wyn en memorabilia sal opgeveil word.

Skakel Piet Strydom by 083 997 2418, Carien Helberg by 072 151 8951, Marie Vos by 083 866 2511 of die kerkkantoor by 017 638 1134.

Die ou kerk met konsistorie wat in 1932 aangebou is.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version