Local newsNews

Jong model van Secunda kry kans om na Amerika te gaan

Lanique benodig geld om haar talent verder te ontwikkel

SECUNDA – Lanique Jansen van Vuuren (11) droom daarvan om eendag aan Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal deel te neem.

Dié jong model het drie jaar gelede met modelwerk begin en al verskeie pryse vir modelkompetisies gewen.

Sy is as Miss Congeniality in die Kansa Socialite-kompetisie aangewys en is by dié kompetisie deur talentsoekers raakgesien en gekies om in Florida in die Verenigde State van Amerika (VSA) aan ‘n internasionale talentskou deel te neem.

By dié talentskou kry opkomende modelle, akteurs, sangers en dansers die kans om met die wêreld se top modelagentskappe, agente en bestuurders skouers te skuur en hulle kry ook opleiding en woon slypskole by.

Die agentskap wat dié geleentheid reël, International Talent Showcase (ITS), se doelwit is om ‘n veilige en familie-georiënteerde omgewing vir opkomende jong stêrre te skep om hul talente te ontwikkel.

Lanique Jasen van Vuuren op die loopplank by ’n onlangse modelkompetisie.

Die modelgogga het Lanique gebyt toe sy sewe jaar oud was en gesien het haar niggie, Annika Bowker, wat sewe jaar ouer as sy is, doen modelwerk.

“Lanique wou toe ook modelwerk begin doen en sy moes kies tussen dans en modelwerk,” het haar ma, me. Launa Jansen van Vuuren gesê.

Lanique doen modelwerk by die Alla Modelling & Beauty Company.

Haar rolmodelle is Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika 2018 en Demi-Leigh Nel-Peters, Mej. Heelal 2017.

Lanique het die Miss Superhero 2018, ‘n fotogeniese-kompetisie, gewen asook die Mej. Swartdgoudfees 2018.

Sy het tweede en derde plekke verower in die Miss Country 2016, Miss Winter La Beaute 2017, Miss Summer La Beaute 2017, Miss Christmas Beauty 2018 en Little Miss Candy Pop.

Sy het die meeste punte behaal in die Kansa promosiekompetisie verlede jaar.

In haar vrye tyd geniet Lanique dit om met haar Barbie-poppe of haar twee maande oue worshondjie, Max, te speel.

Lanique Jasen van Vuuren by haar afrigter in modelwerk, me. Allison Cronjé van Alla Modelling & Beauty Company.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button