Skoenboks-projek skop weer binnekort af

Reik uit na ’n behoeftige kind

SECUNDA – Belangstellendes kan op Sondag, 1 September begin om hul bokse gereed te kry vir die nasionale, jaarlikse Santa Skoenboks-projek.

Dié projek is in 2006 begin en beoog om geskenke wat agt items bevat, aan behoeftige kinders uit te deel.

Volgens me. Gerda Peuckert, die projek koördineerder op Secunda, beoog hulle om vanjaar hul miljoenste boks sedert die ontstaan van die projek, uit te deel.

Belangstellendes kan die Santa Skoenboks-projek se webwerf besoek by www.santashoebox.org.za ’n kind kies aan wie hulle ’n skoenboks wil skenk en die kind se wenslysie op die webwerf kry.

Die skoenbokse moet dan op sekere tye by sekere aflaaipunte afgelaai word.

Dit is vanjaar die vierde agtereenvolgende jaar wat dié projek op Secunda plaasvind en me. Peuckert het gesê hul mikpunt is om sowat 450 bokse aan behoeftige kinders op Kriel, Evander, eMbalenhle en Trichardt te skenk.

“Ek hoop almal neem deel en help ons om ons doelwit te bereik,” het me. Peuckert gesê.

Sy het skole en ondernemings aangemoedig om mekaar uit te daag en te kyk hoeveel skoenbokse hulle kan insamel.

Die aflaaipunte is op Vrydag, 25 Oktober tot Sondag, 27 Oktober by Laerskool Goedehoop in Stanfordstraat op Secunda.

Belangstellendes kan Vrydag vanaf 1nm tot 5nm hul bokse gaan aflaai, Saterdag vanaf 10vm tot 5nm of Sondag vanaf 10vm tot 1.30nm.

Die kostes om ’n skoenboks saam te stel beloop ongeveer R250 en me. Peuckert het gesê een boks kan ook as ’n spanpoging gevul word.

Pep is een van die nasionale borge van die skoenboks-projek en die inhoud van die bokse kan by Pep aangekoop word.

Die agt items in die bokse sluit in ’n tandeborsel en tandepasta, seep, ’n waslap, ’n speelding wat vir die kind se ouderdom geskik is, skoolbenodigdhede soos penne, potlode, woordeboeke, sakrekenaars of ’n telraam, ’n stel klere en lekkergoed.

Belangstellendes kan ook enige iets ekstra soos waterbottels, pennesakkies, hoede, sonbrille, beursies, rekkies of knippies in hul bokse pak.

Dié items moet in ’n skoenboks of plastiekhouer of houtboks van 25x35x15cm pas.

Die organiseerders van die skoenboks-projek het vanjaar ’n toep beskikbaar gestel wat in Google Playstore afgelaai kan word.

Vir meer inligting, skakel me. Peuckert by 082 499 4662 of stuur ’n e-pos na gerda@santashoebox.org.za of besoek die webwerf by www.santashoebox.org.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version