Serebrale gestremdheid stuit Sibongile

Surprise het ’n spesiale rolstoel nodig omdat haar ouma haar nie meer kan optel en rond dra nie.

SECUNDA – Sibongile Phakathi (11) ook as Surprise bekend, was net vyf dae oud toe haar ma in ‘n motorongeluk dood is.

Surprise is met serebrale gestremdheid/verlamheid of Cerebral Palsy gediagnoseer.

Weens skade aan die ontwikkelende brein, versteur serebrale verlamming (CP) beweging en spiere.

Soos in haar geval, is haar voete na binne gedraai wat pyn en ongemak in haar heupe veroorsaak.

Juis hierom moet sy op 3 November ‘n operasie ondergaan om haar heup terug in die potjie te sit.

Sy kan nie sonder ondersteuning regop sit of loop nie, en kan ook nie haar hande of arms gebruik nie.

Geen ander familielid wou haar grootmaak nie en daarom het haar ouma, me. Belinah Phakathi, haar aangeneem.

Omdat sy nie kan kou of sluk nie, moet me. Phakathi haar kos baie fyn maak.

Surprise maak ook net geluide omdat sy nie kan praat nie.

Me. Phakathi sê Surprise hou baie van tee.

“Wanneer sy tee wil drink, maak sy so kreungeluid en draai haar kop na die ketel, dan weet ek sy wil tee hê.

“Wanneer sy koeldrank wil drink, kreun sy en draai haar kop na die yskas. Ek moet haar kos met ‘n vurk fyn maak.

“Dit neem baie lank met die vurk en ek kan dit nie altyd fyn genoeg maak nie. Die kos moet dan agter op haar tong gesit word sodat sy dit kan sluk.”

Hulle woon in eMzinoni en Surprise moet daagliks heen en weer na Marietjie Skool in Secunda vervoer word.

Dié skool het gehelp om ‘n karstoeltjie vir haar te kry.

Dit help haar nie net om veilig en gemakliker by die skool en huis te kom nie, maar sy kan nou ook regop in ‘n rolstoel in dié karstoeltjie sit.

“Die hospitaal het vir my ‘n rolstoel gegee, maar dit is heeltemal te groot vir Surprise en die kussing is flenters. Sy skuif af en val rond in die stoel.

“Die geld wat ek vir haar kry, gebruik ek vir taxigeld vir haar om by die skool te kan kom. Dit is R600 ‘n maand.

“Ek moet weekliks vir haar doeke koop en dit kos R180 ‘n pak.

“Soms het ons nie kos in die huis nie en dan kan ek nie vir haar ‘n kosblik skool toe stuur nie.

“Ek kan ook nie sit dat mense net vir my moet geld gee nie. Ek werk vir ekstra geld om haar en die res van my gesin te onderhou.”

Surprise het ‘n spesiale rolstoel nodig omdat haar ouma haar nie meer kan optel en ronddra nie.

Só ‘n stoel kos bykans R15 000.

Die rolstoel sal hul lewens op verskeie vlakke verryk en vergemaklik.

Surprise het nog nie ‘n skooluniform nie en haar ouma het nie geld om dit vir haar aan te skaf nie.

As iemand hulle met ‘n voedselverwerker (blender) en nommer vyf doeke kan help, sal dit verligting bring.

Vir geldelike bydrae vir die rolstoel of ander benodigdhede, skakel Marietjie Skool by 017 631 1474/5 of stuur ‘n e-pos na marietjielsen@telkomsa.net.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version