Local newsNews

Tant Sannie rig haar lewe volgens diensbaarheid in

Dié vrou het ’n driedubbele hartomleiding in 1998 oorleef en ook twee plaasaanvalle waar sy tydens die eerste voorval raakgeskiet is en tydens die tweede met ’n mes gewond is.

Of Val se tannie Sannie Smith Vrouedag spesiaal gevier het, is onseker, maar een ding staan soos ‘n paal bo water, teen 4vm sou sy uit die vere wees.

Dié oumagrootjie, ouma en ma van onderskeidelik twee agterkleinkinders en drie stiefagterkleinkinders, sewe kleinkinders en van Dorothea en Yvonne, het in April 86 jaar geword.

Haar kleindogter, Surita van der Merwe, het die heildronk wat sy op ouma Sannie met haar broer se troue ingestel het, met die koerant gedeel.

“Ek onthou hoe my ouma ons vertel dat sy vroeg in haar huwelik moes kies tussen ‘n groot huis en ‘n groot tuin. Die ywerige tuinier in haar het gewen, en sy het die groot tuin gekry, wat haar hart begeer het.”

“As dit lig word, gaan ek tuin toe,” het tannie Sannie saamgestem.

Surita het ook by die heildronk die volgende gesê:

“Terug by ouma en oupa, al is hy nie hier nie, dankie vir dit wat julle vir ons geleer, gegee en aan blootgestel het. Daar was dalk nooit pleisters of koekies in die huis oor nie, maar altyd liefde en ‘n wysheid om te deel.”

Sy het afgesluit met Spreuke 16:31- ‘Ouderdom is ‘n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe’.

Sy het in die Depressiejare van 1933 grootgeword en skool op Hendrina bygewoon waar die skoolleuse ‘werk en wen’ soveel aanklank gevind het, dat sy haar lewe daarvolgens ingerig het.

Met ‘n eerste poskantoorsalaris van 12 pond ‘n maand het sy begin werk op Bethal en mettertyd aflosdiens gdoen en voordat sy na die destydse Suidwes-Afrika gestuur sou word, het haar oorlede man, Vernon Smith, gesê genoeg is genoeg en hulle het die knoop in 1955 deurgehaak.

Die Smiths was van die eerste mense op Val en Vernon se ouers was groot boere en die winkeltjie langs die Val Hotel het destyds aan hulle behoort.

Die plaas Mount Pleasant is later uitgekoop en tannie Sannie het benewens slag, worsmaak, botterkarring en biltongmaak ook in die sentrale gewerk.

Daar is destyds by die Vroue Landbou-unie op Val aangesluit, ‘n organisasie waaraan tannie Sannie steeds behoort, wel nou by die Vaalrivier-tak op Standerton.

“Ek het ‘n hele reeks lidmaatskapknopies,” aldus tannie Sannie.

Sy het haar lewe in geloof vasgeanker en woon die diens elke Sondag in die kerk by en neem aan Bybelstudie en bidure deel. Tant Sannie hou haar tussendeur besig met brei en hekel.

Dié vrou het ‘n driedubbele hartomleiding in 1998 oorleef en ook twee aanvalle, een plaasaanval waartydens sy raakgeskiet is, en en een mesaanval.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button