Local newsNews

Tracy Fourie veg teen diabetes en nierversaking

Vrou moet vier keer daagliks dialise kry

SECUNDA – Me. Tracy Fourie is spyt dat sy nie vroeër in haar lewe meer aandag aan haar diabetes gegee het nie.

Die diabetes het haar niere ook aangetas en sy moet vandag vier keer daagliks dialise kry en meen sy kan nie meer soos normale mense voltyds werk of vir te lank té ver van die huis gaan nie.

Haar siektetoestand tas ook haar oë en brein aan.

Sy begin ook gevoel in haar tone verloor weens die diabetes en nierversaking.

“As ek vir iets kyk, is dit uit fokus en ek raak vergeetagtig,” het sy gesê.

Sy is 32 jaar gelede, toe sy 21 was, met diabetes gediagnoseer, maar sy het dit nie goed gekontroleer nie.

“Ek het dit met ‘n knippie sout gevat en nie na myself gekyk nie.”

Sy het destyds, toe sy gediagnoseer is, ‘n program op televisie oor diabetes gekyk en besef sy het baie van die simptome gehad waaroor hulle gepraat het.

Sy is na die dokter waar hy haar vir diabetes getoets het.

Die nierversaking het verlede jaar begin. Voor April vanjaar kon me. Fourie nog sonder dialise funksioneer.

Die volgende opsie vir me. Fourie is om ‘n nieroorplanting te kry.

Sy moet egter eers ‘n hartspesialis gaan sien voordat reëlings vir ‘n nieroorplanting kan begin.

Me. Tracy Fourie met die houtrakke wat sy en haar man maak.

“Ek is kwaad vir myself dat ek nie vroeër in my lewe beter na myself omgesien het nie.

“As mense my destyds dalk meer bang gepraat het oor diabetes, sou ek dalk geluister het en meer moeite met my gesondheid gedoen het.”

Me. Fourie leef nou van een dialise-toevoeging na die volgende een.

Sy dien dit self toe by haar huis, maar sy meen dit neem jou hele lewe oor.

“Ek moet dit vier keer daagliks doen en dit neem sowat ‘n uur vir elke sessie.”

Me. Fourie se droom om kinders te hê, is ook verpletter nadat sy miskrame gehad het en daarna weer swanger geraak het, maar die babadogtertjie het slegs vir vyf ure ná haar geboorte geleef.

Sy het nie ‘n onderlyf gehad nie. Volgens me.Fourie noem ‘n mens dit ‘n meerminbaba.

Na dié swangerskap het me. Fourie net nooit weer swanger geraak nie.

“Een van my swangerskappe sou ‘n tweeling gewees het.”

“Die dokters het gesê dit is weens my suikertelling dat ons die baba’s verloor het.

“Dit was vir my baie traumaties, maar ek hou aan die Here vas. Hy het my deur dié moeilike tye in my lewe gedra.”

Me. Fourie het voorheen as sekretaresse en adminbestuurder by verskeie kontrakteure op Sasol gewerk.

Sy het dié werk baie geniet, maar het besluit om in 2016 ‘n breek van haar werk te neem.

Sy het kort daarna begin siek word.

Me. Fourie het ‘n kursus in skoonheid gedoen en het ‘n salon by haar huis waar sy naels en masserings doen.

Sy en haar man maak ook rakkies waarop ‘n mens bekers kan hang en sy maak klein muurbehangsels wat sy ook verkoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button