#JacoJordaan: Heidelbergse sakeman verskyn in Evander-streekhof oor beleggingsbedrog van meer as R100-miljoen

Hy het ook sake in Sandton teen hom. Hierdie sake sal na wat verwag word by dié van Secunda en Kriel gevoeg word

HOëVELD – Mnr. Jaco Jordaan, ‘n Heidelbergse-sakeman wat van meer as R100-miljoen se beleggingsbedrog verdink word, het op Maandag, 22 Julie, sy eerste verskyning in die Evander-streekhof gemaak.

Die Secunda-landdroshof het die saak op 15 Maart na die streekhof oorgeplaas.

Mnr. Jordaan word daarvan aangekla dat hy meer as 100 mense vanuit Kriel en Secunda uit hul spaargeld bedrieg het in ‘n multi-miljoen rand beleggingskema.

Die polisie glo moontlik dat die ‘n grootskaalse ponzi-stelsel mag wees.

Die meeste mense vanuit Kriel is bejaarde pensioentrekkers of mense wat ongeskik vir werk verklaar is. Hulle het hul hele pensioen by mnr. Jordaan se onderneming, Stocktraders SA, belê.

Die beleggers het verwag om groot bedrae rente per maand te ontvang. Sommiges het inderdaad miljoene belê.

Dit het glo vir jare goed gegaan totdat die maandelikse uitbetalings in September 2017 opgedroog het.

‘n Belegger wat lont geruik het, het by sy prokureur, mnr. Lourens Grundlingh, gaan kla.

Mnr. Jordaan is ‘n jaar gelede deur speurders van Secunda en Kriel by Germiston-polisiekantore in hegtenis geneem waar hy probeer het om sy skootrekenaar en persoonlike eiendom terug te kry.

Dié was in die polisie se kluis terwyl mnr. Jordaan tyd in die polisieselle daar deurgebring het weens ‘n ander soortgelyke dossier wat reeds in 2012 in Gauteng teen hom geopen is.

Die polisie se handels-misdaadeenheid het die onder-soek oorgeneem.

Mnr. Jordaan is uit op borgtog van R50 000. Hy het ook sake in Sandton teen hom. Hierdie sake sal na wat verwag word by dié van Secunda en Kriel gevoeg word.

Die saak is uitgestel tot 4 September.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version