Local newsNews

Secunda-pa tref voorsorg vir toekoms met MNS

Dit is tans ’n geval van gemengde gevoelens, want aan die eenkant bly ek postief vir my kind se onthalwe en hou ek aan Jesus vas. Aan die anderkant is ek benoud, want ek sien elke dag hoe erger ek agteruitgaan

SECUNDA – Die tyding het hom soos ‘n mokerhou getref, hy het dieselfde siekte as Joost van der Westhuizen.

Mnr. Marthinus (Boela) Deetlefs (34) het geweet daar is groot fout met sy liggaam, maar hy het nie verwag om te hoor hy het slegs sowat twee jaar oor om te leef nie – drie jaar as hy gelukkig is.

Hy het ook nie verwag om te hoor dat hy die grootste gedeelte van sy kort tydjie oor op aarde, van ander se versorging afhanklik gaan wees nie.

Mnr. Deetlefs se toestand gaan drasties agteruit sedert hy in Junie met motorneuronsiekte (MNS) gediagnoseer is.

Dié enkelouer en sy sewejarige rugbybulletjie, Juandré, het op Vrydag, 26 Julie, Secunda verlaat om in Melkbosstrand by sy ouers, mnr. Martiens en me. Cecile Deetlefs, te gaan woon.

Mnr. Deetlefs het op Secunda grootgeword en was tot onlangs toe as ‘n spesialis-elektromeganikus by Sasol Mynbou in diens.

“Die dokter skat dat ek teen Desember in ‘n rolstoel sal wees en miskien nie meer sal kan praat nie, daarom kry my ouers nou reeds alles in plek.”

Mnr. Deetlefs se helder blou oë skiet telkens vol trane wanneer hy oor die toekoms praat. “Ek sal so graag my kind wou sien waar hy universiteit toe gaan of vir sy hoërskool se rugbyspan uitdraf.”

Hy vryf kort-kort sy hande wat in handskoene toegewikkel is. “My hande bly koud. Hulle het geen gevoel nie. Ek kan nie eers meer ‘n pen vashou nie,” het hy verduidelik.

Mnr. Deetlefs se voete en bene het ook byna geen gevoel meer oor nie. “Die dokter het met een toets naalde in my voete en bene gedruk en hoewel daar bloed uitgeloop het, het ek niks gevoel nie.”

Dié eens kranige sportman wat as tiener rugby, krieket en atletiek beoefen het en ook ‘n puik boogskut was wat gereeld saam met sy pa gaan jag het, kan nou skaars ‘n tas optel.

Sy probleme het eintlik ‘n aanloop gehad. Hy is in 2015 met suikersiekte (diabetes) gediagnoseer.

‘n Vriend het in Januarie verlede jaar van ‘n leer af geval en bo-op mnr. Deetlefs te lande gekom. Die vriend is nie beseer nie, maar mnr. Deetlefs se linkerbeen is op ses plekke gebreek.

Mnr. Marthinus Deetlefs en sy seuntjie, Juandré (7) langs die rugbyveld. Hulle het Vrydag Kaap toe getrek omdat dié enkelpa met motorneuronsiekte gediagnoseer is.

‘n Operasie het verkeerd verloop en mnr. Deetlefs is toe later in die Gateway Hospitaal in Durban waar sy ouers toe gewoon het, geopereer om die brouwerk te herstel. Die been het infeksie gekry en hy is later weer geopereer. Hy het uiteindelik ‘n knievervanging ondergaan.

Toe hy vroeg vanjaar geen gevoel in sy hande en voete gehad het nie, is hy weer dokter toe.

Na vele toetse was die dokter se diagnose dié van diabetiese perifere neuropatie, ‘n toestand waar suikersiekte die senuweestelsel aantas.

“Aanvullings is voorgeskryf en ek het ‘n biokinetikus besoek, maar ek het na elke besoek net seerder gevoel.”

Sy linkerbeen het ook al hoe meer verswak en hy het dus ‘n outomatiese motor gekoop.

Mnr. Deetlefs het opgelet dat hy net al hoe minder krag en energie het. Selfs die krag in sy stem is gedemp.

“Dit is tans ‘n geval van gemengde gevoelens, want aan die eenkant bly ek postief vir my kind se onthalwe en hou ek aan Jesus vas. Aan die anderkant is ek benoud, want ek sien elke dag hoe erger ek agteruitgaan.”

Mnr. Deetlefs het die mense in sy lewe, sy vriende en sy kollegas bedank vir almal se ondersteuning en vriendskap. “Ek wil veral vir Lizelle Riekert dankie sê vir haar en haar kinders se ongelooflike ondersteuning. Hulle is soos familie vir my.”

Die rugby-ouers van Laerskool Goedehoop het verlede week ook vir die Deetlefs-pa en -seun ‘n afskeidsfunksie gehou.

Mnr. Marthinus Deetlefs is met MNS gediagnoseer en sy toestand verswak daagliks.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button