Landbouers in die distrik sukkel met beplanning

In die Bethal- en Standerton-distrik kry meeste landbouers jaarliks hael, vanjaar het die ergste hael hul in Maart getref. Aardverwarming is ’n werklikheid en landbouers glo ook dat die land se wanbestuur ’n groot invloed op boerdery het.

BETHAL – In die Bethal- en Standerton-distrik kry meeste landbouers jaarliks hael.

Vanjaar het die ergste hael hulle in Maart getref.

“Ons het 72% haelskade gely, maar van ons bure het 100% gely” het ‘n landbouer gesê.

Selfs die Standerton- en Delmas-omgewing het erg haelskade gehad.

Van die boere kon nie oorplant nie omdat alles weggeslaan was.

Met die ekonomie styg alles met 10%, maar landbouers se oes groei nie met 10% nie.

‘n Bethallandbouer het gesê: “Dit was beslis ‘n droë seisoen. In die middel van die seisoen het dit bietjie gereën, wat almal hoop gegee het.”

Aardverwarming is ‘n werklikheid en landbouers glo ook dat die land se wanbestuur ‘n groot invloed op boerdery het.

“Mense wat niks van boerdery weet nie, word aangestel om daarmee te werk. Ons het byvoorbeeld ‘n diesel-oudit gehad. Die vrou wat ons oudit hanteer het, vra toe vir my waarom ons die bakkie se diesel wil terugeis.

“Ek wou nog verduidelik toe antwoord sy, ‘we do not pay you to drive around and look at your cattle,’ daar het ek net weer besef dat dié wat in bestuursposisies sit, niks van boerdery weet nie.”

Haelbuie, droogte en geskommelde seisoene is reeds ‘n bewys van aardverwarming.

Meeste lanbouers het klaar gestroop. Party se mielies wag nog op die lande omdat dit nie oes gereed is nie. (Foto: Tersia Anne fotografie)

Volgens landbouers in die omgewing is oes- en planttyd nie meer dieselfde nie.

In die verlede is daar op 10 Oktober geplant.

“Vanjaar het ons eers na 20 November geplant. Dit het net nie gereën nie. Ons verloor dan op tonne.

“Soms is die een deel van die land reg, maar die ander deel nie.”

Oesversekering vereis dat daar voor 23 November klaargeplant word, anders kan hulle nie verseker word nie

“Die laaste twee tot drie jaar is planttyd met ‘n maand verkort. Omdat ons laat plant, is die mielies nog nat en kan nie geoes word nie. In April toe dit moes ryp, het ons geen ryp gehad nie. Die seisoen het vanjaar reeds gedraai, maar ons het nog glad nie regtig koud gekry nie. Wanneer dit veronderstel is om warm te word, word dit eers koud.”

Omdat die seisoene so deurmekaar is, maak dit die beplanning soveel moeiliker.

“Baie het ‘n illusie oor boerdery. Hulle dink jy ry in jou bakkie rond en bekyk jou lande.

“Dit is harde werk en met die dat ons nie reg kan beplan nie, bemoeilik alles.”

Selfs in die VSA kon hulle weens geen reën nie plant nie, hierna het dit weer te veel gereën.

“Alles gaan oor in- en uitvoere. Wanneer Amerika nie kan plant nie, styg die mielieprys.”

Buiten die gesukkel om te plant en oes, maak silo’s veral graanboere dood met silokostes.

Baie landbouers moes van hul vee ontslae raak omdat daar net nie genoeg weiding is nie en meeste met leë damme sit.

(Foto’s: Tersia Anne fotografie)

Om ‘n landbouer te wees is nie maklik nie. Baie mense is onder ‘n wanindruk oor wat dit werklik behels. (Foto: Tersia Anne fotografie)
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version