Local newsNews

Mamma huil verniet, ek gaan nog lank lewe

Ridge Times het weer by Lizette Neveling, die jong meisie wat met sistiese fibrose gebore is, gaan inloer. Jy het weereens dié jaar baie deurgemaak, maar het ook lekker verrassings ontvang.

BETHAL – Lizette Neveling (11) het verlede jaar by die dood omgedraai terwyl sy haar verjaardag in die hospitaal moes vier.

Sy is met sistiese fibrose (SF) gebore.

Dié siekte het die Neveling-gesin se lewens verander.

Haar pankreas werk glad nie en sy moet spesiale pille drink wat help om haar kos te verteer.

Lizette is nou permanent aan ‘n suurstofmasjien gekoppel.

Sistiese fibrose is ‘n lewensgevaarlike en oorerflike siekte.

‘n Gelukkiger oomblik in haar lewe was toe sy vanjaar as eerste prinses by die Swartgoudfees in Kriel aangewys is.

Haar ma, Louise vertel, “Ons het nie gegaan om te wen nie. Zet is baie lief vir modelwerk en het my gesê dat sy goed voel en graag wil deelneem.

Dit was baie goed vir haar om uit die huis te kom. Al moes sy met die suurstofpypie in haar neus loop, het sy met so baie selfvertroue op die verhoog gegaan.”

Opgewondenheid het haar so oorweldig dat sy die suurstofpypie uit haar neus geruk het en op die verhoog gehardloop het.

Sy het almal baie groot laat skrik en was potblou weens die tekort aan suurstof.

Ouma Johanna Lombard help Lizette om haar kroon op te sit wat sy tydens die Swartgoudfees gewen het.

Terwyl hulle by dié fees was, het weldoeners van Johannesburg Lizette se kamer mooigemaak.

Sy kon vir ‘n oomblik nie glo dat dit haar kamer is nie.

Die simptome van SF is dik, taai slym wat verhinder dat veral die longe en pankreas normaal werk.

Dik slym in die keel, chroniese hoes, gereelde respiratoriese infeksies, vel wat souterig is, poliepe in die neusgange, verstoppings in die ingewande en ander verwante probleme is die gevolge.

Soos met Lizette, is van die simptome soos vertraagde groei, swak gewigaanwas, moegheid en chroniese hoes duidelik sigbaar.

Lizette het verlede jaar vir agt maande koors gehad. Die skok op haar liggaam het tipe twee diabetes veroorsaak.

Gedurende dié tyd was sy vir sewe weke in die hospitaal met vyf verskillende soorte siektes wat haar afgetakel het. SF het haar immuniteit afgebreek en sy het bykans geen weerstand nie.

Die port wat sy gehad het moes uitgehaal word omdat sy portseptus ontwikkel het.

Voor sy hospitaal toe is het sy ‘n skrale 18kg geweeg.

Dokters het vir me. Neveling gesê dat Lizette liggaamlik moeg is.

“Die dokter het gesê ek moenie vir Lizette forseer om teen die siekte te baklei nie. Hulle het ook gesê sy is moeg en as sy nie meer kan nie, moet ek haar los.”

Sy ontvang daagliks voeding wat spesifiek vir diabete bedoel is.

Die staatshospitaal hou nie die sakkies vir diabete aan nie en dus moet hulle tot R166 per sakkie opdok.

Me. Neveling het onlangs weer ‘n groot beroerte gekry.

“Ek het voorheen ‘n beroerte gehad, maar dié een het groot skade gemaak. Ek kan nie reg praat, loop of met my hande werk nie.”

Mnr. Neveling werk, maar sy is ongeskik verklaar.

“Ons is almal ewig dankbaar vir die hulp. Dit is te danke aan julle dat Lizette vandag kan wees waar sy is.”

Die gesin het die gemeenskap se hulp nodig en as enige iemand kan help skakel Johanna Lombard, Lizette se ouma, by 064 908 8552.

Die pophuis agter haar was ook ’n geskenk. Die suurstofpypie wat aan die masjien gekoppel is, is ekstra lank sodat sy kan rondbeweeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button