Evander vrou kry seuntjie na nege miskrame

Louise oorwin baarmoederkanker

EVANDER – Me. Louise Oosthuizen (27) se begeerte om ‘n kind te hê is uiteindelik, nadat sy nege miskrame gehad het, vervul.

Vandat sy en haar man, mnr. Johan (28) in 2014 getroud is, wou hulle baie graag kinders hê en me. Oosthuizen het aanhou probeer om swanger te raak.

Sy het in 2015 vir die eerste keer swanger geraak met ‘n tweeling.

“Dit sou ‘n dogtertjie en ‘n seuntjie gewees het,” het me. Oosthuizen vertel.

Sy was vier maande swanger toe sy dié miskraam gehad het.

In die volgende drie jaar het me. Oosthuizen nóg agt miskrame gehad.

“Ek was met dié miskrame nooit langer as ses weke swanger nie dan kom die babatjie af.”

Die egpaar beskou hul seuntjie, Jonathan, wat bykans twee is, as ‘n wonderwerk en het gesê hulle is baie dankbaar vir hom.

“Sy naam, Jonathan, beteken geskenk van God en dit is presies wat hy vir ons is,” het me. Oosthuizen gesê.

Vir mnr. Oosthuizen was dit ‘n wonderlike ervaring toe hy Jonathan vir die eerste keer vasgehou het.

“Dit was onbeskryflik, jy ervaar ‘n liefde wat nog nooit daar was nie,” het hy vertel.

“Hy is perfek met blonde hare en blou oë. Hy bring soveel vreugde vir ons.”

Me. Oosthuizen was vir 15-ure in kraam met Jonathan voordat hy sy opwagting gemaak het.

“Ek wou nog altyd ‘n seuntjie gehad het en met Jonathan se geboorte, het Jesus uiteindelik my gebed verhoor en hom vir ons gegee,” het me. Oosthuizen gesê.

Kort na Jonathan se geboorte, het me. Oosthuizen nóg ‘n miskraam gehad.

Me. Oosthuizen moes ook, terwyl Jonathan nog nie eers ‘n jaar oud was nie, teen baarmoederkanker (choriocarcinoma) veg en chemoterapie ondergaan.

“Ek het as jong meisie al siste op my baarmoeder gehad en moes dit gereeld laat verwyder deur die dokter,” het me. Oosthuizen gesê.

“Dit is maar ‘n voorloper van baarmoederkanker.”

Sy is met baarmoederkanker gediagnoseer toe Jonathan ses maande oud was.

Sy was naar, het begin sleg voel en gereeld infeksie begin kry.

Dokters het eers gedink sy is swanger.

“Ek het vir hulle gesê dit kan nie wees nie, Jonathan is slegs ses maande oud.”

Voordat sy ‘n inwendige sonar laat doen het, het ander toetse gewys sy is swanger.

Na dié sonar, het dokters egter bevestig dat sy ‘n gewas van 75cm groot op haar baarmoeder gehad het.

“Die simptome van baarmoederkanker is baie dieselfde as met ‘n swangerskap.”

Me. Oosthuizen moes 27 chemosessies ondergaan en het gesê dit was ‘n rowwe tyd vir haar.

“Dit was fisies en emosioneel baie uitputtend en my hare het begin uitval.

“Jy voel soms of jy net nie meer wil aangaan nie. ‘n Vrou het vir my gesê ek het ‘n kind om groot te maak en om voor te lewe en ek het besluit om voort te gaan ter wille van Jonathan.”

Me. Oosthuizen wou eers nie al haar hare afskeer nie, maar toe dit so begin uitval het, het sy besef dit gaan beter lyk om net alles af te skeer.

Haar kankertelling voor die chemosessies was 1,210 000 en na die chemosessies was dit 0,02.

Sy het in Januarie ‘n volle histerektomie ondergaan en is nou kankervry.

Die egpaar het mnr. Oosthuizen se werksplek, Assa Abloy, bedank vir hul ondersteuning en hulp gedurende dié moeilike tyd.

Sy het alle vroue aangemoedig om gereeld vir roetine-ondersoeke te gaan en gesê mans kan ook die soort gewas wat sy gehad het, kry.

“Elke persoon het ‘n duisend wense, maar ‘n kankerpasiënt het net een, en dit is om beter te word,” het me. Oosthuizen gesê.

“Voordat jy dinge as vanselfsprekend aanvaar, dink hieraan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version