Local newsNews

Patrizia Lombard geensins van plan on gholfstokke weg te pak nie

Sy is van voorneme om tot op 50-jarige ouderdom provinsiaal te wedywer en daarna wag sosiale spel. Maar is dit ’n geval van hoe later hoe kwater?

Patrizia Lombard se beroep as boekhouer val gerieflik saam met haar sportbelangstelling.

Om van ‘n belangstelling te praat, skets nie die hele prentjie nie omdat sy nougeset en gedissiplineerd oefen aan haar gunsteling spel, gholf.

“Dit is die enigste werk wat jy kan doen wat jou toelaat om te speel soos ek speel,” aldus Patrizia.

In die dag sal jy haar op die gholfbaan vind en saans skuif sy voor die rekenaar in om kliënte se finansiële state na te gaan.

Dit was egter geen speletjies om by die afgelope kompetisie by Maccauvlei as wenner van die ‘Challenge’-trofee aangewys te word nie.

Patrizia en spanmaats, Danielle Bekker en Nicola Schoeman, het 634 punte opgestapel vir die Mpumalanga B-span en sal na dié sege volgende jaar in die A-afdeling meeding.

Wat die prestasie uitsonderlik maak, is dat die oorwinning laas in 2010 hulle s’n was.

Patrizia Lombard het gou oë gewys voordat sy na haar volgende afspraak gaan.

Die kragmeting het oor drie dae afgespeel met 18 putjies op die eerste dag en daarna 36 en nog 18.

Patrizia het ook die gebruiklike kapteinsbaadjie aangetrek op dié mooi baan langs die Vaalrivier en een staaltjie oor die baanopsigter het haar bygebly.

Dié man se hond, Bella, weet dalk ook baie van ‘n setperk want hy is saam as daar gras gesny word, by in die sandkuile wanneer gehark word en hardloop self na die klubhuis om kos te kry.

Sien is glo, so sê hulle, en ‘n video is aan die Standerton Advertiser gewys ter stawing van die gebeure.

Patrizia se voorgee wissel van 7 tot 9 en wintermaande is dit nie so maklik soos in die somer nie.

Met ‘n temperament wat nie swig voor versoekings soos woede of speelgoed uit die kas gooi nie, het sy die volgende raad vir voornemende gholfers:

“Hoe kwater jy op ‘n gholfbaan raak, hoe minder kry jy reg.”

November sal die Zebula Gholflandgoed in Limpopo haar sien vir die ‘National Champ of Champs’ waarna Mpumalanga se amptelike klubkampioen weer eens haar gholfsakke sal pak.

Dat sy twee maande buite aksie was nadat ribbes gekraak is, stem haar nie tot wanhoop nie.

“Ek sal bietjie begin werk aan my fiksheidsroetine.”

Sy is van voorneme om tot op 50-jarige ouderdom provinsiaal te wedywer en daarna wag sosiale spel.

Maar is dit ‘n geval van hoe later hoe kwater?

“Ek word ouer en speel beter gholf,” het sy mee afgesluit.

Patrizia Lombard in speelse bui. (Foto Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button