Local newsNews

Jong ingenieur van Evander wat in Januarie ernstig in ’n motorongeluk beseer is, toon goeie vordering

Ruan het gesê hy het in baie sand gestaan toe die Here vir hom gesê het om nie bekommerd te wees nie, want Hy sal na Ruan omsien

EVANDER – Die neurochirurg was verstom toe mnr. Ruan van Deventer verlede week sy hand geskud en hom bedank het.

Dié pasiënt se kans om ‘n motorongeluk vroeër vanjaar te oorleef was immers skraal en al die hoofbeserings was vir medici ‘n aanduiding dat mnr. Van Deventer net ‘n skadu sou wees van die man wat hy eens was.

Volgens sy verloofde, me. Kayleigh Dee van Rensburg, kan haar geliefde al stadig praat en met hulp uit sy rolstoel opstaan.

“Dr. Mboyane het met verlede week se besoek eers werklik vir ons verduidelik hoeveel skade Ruan se brein opgedoen het. Ruan se vordering het alle verwagtinge oortref,” het sy vertel.

Mnr. Van Deventer (28), ‘n stelselingenieur by EOH in Secunda, was ernstig in ‘n motorongeluk wat op 19 Januarie in Cambournestraat, Evander gebeur het, beseer.

Hy het erge hoof- en gesigbeserings opgedoen en was vir sowat twee maande in ‘n koma in die Union Hospitaal in Alberton se waakeenheid.

Hy was hierna in ‘n rehabilitasie-sentrum en is tans ‘n buite-pasiënt by Midstream Hospitaal in Centurion waar hy daagliks behandeling, soos fisioterapie, arbeidsterapie en spraakterapie, ontvang.

“Elke dag is daar verbetering. Ruan het meer as 20kg verloor, maar sedert hy weer kan kou, tel hy darem gewig op,” het me. Van Rensburg vertel.

Met haar klein lyfie help sy om haar verloofde te versorg, rond te ry en sy terapiesessies by te woon. Sy en haar aanstaande skoonouers, mnr. André en me. Karin van Deventer, maak ‘n gedugte span.

“‘n Trauma-berader het my aan die begin probeer oortuig dat Ruan nie sou herstel nie en dat ek beter daaraan sou af wees om my met my eie lewe voort te gaan. Dit was in die tyd wat ons sou getrou het. Ek het net geweet dat die Here groter dinge vir Ruan beplan.”

Mnr. Van Deventer het vir haar vertel dat God met hom in die hospitaal gepraat het.

“Ruan het gesê hy het in baie sand gestaan toe die Here vir hom gesê het om nie bekommerd te wees nie, want Hy sal na Ruan omsien.”

Daar lê nog ‘n lang herstelpad vir die paartjie voor.

Volgens me. Van Rensburg veroorsaak skade aan die voorste linkerbreinlob dat die regterkant van mnr. Van Deventer se lyf geweldig saamtrek en in spasma gaan.

“Ons is nog nie seker hoe sy sig beïnvloed is nie, maar ons neem elke dag soos dit kom.”

Me. Van Rensburg skat hulle sal binne die volgende twee maande na Evander moet terugkeer. “Ons sal maar daar die terapie moet voortsit.”

Mnr. Van Deventer se verbaasde neurochirurg het met die besoek verlede week sy pasiënt na die Union Hospitaal se waakeenheid geneem om vir die verpleegpersoneel die ‘wonderwerk’ te wys.

“Hulle het gelag, gehuil en gedans toe hulle vir Ruan gesien het. Daar is veral een ou vrou wat altyd oor Ruan kom bid het. Dit was ‘n ongelooflike ervaring om vir haar te kon wys wat haar gebed beteken het.”

Lees ook: 

https://www.citizen.co.za/ridge-times/131386/evander-ingieneur-ernstig-beseer-motorongeluk-weke-voor-sy-troue/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button