Local newsNews

Tannie Nellie vier haar 100ste verjaarsdag

’n Stem aan tafel het tersyde opgemerk dat as sy die dag ‘af’ is, kuier sy by tant Nellie en voel dan sommer beter.

Tannie Nellie Botha van die Kosmos Aftree-oord het op Vrydag 7 Junie ‘n besondere mylpaal bereik toe haar 100ste verjaarsdag in die eetsaal gevier is.

Tannie is dalk nie die regte woord nie want die nederige ouma, oumagrootjie en grootoumagrootjie spog met vyf kinders, 13 kleinkinders, vier agterkleinkinders en drie agteragterkleinkinders.

Sy het voor die funksie soos meeste vroue opgetree, en haar hare laat doen.

Nadat sy terug in haar kamer was, was die verpleegster, me. Michelle Leeds, vir ‘n kort rukkie bedrywig.

“Sy is maar sku vir die rolstoel,” het me. Leeds laat blyk. Die goeie nuus is dat sy nog gesond is met net ‘n paar oumensskete.

Die Standerton Advertiser se klein geskenkie, naamlik ‘n pienk gebreide serp, is om haar skouers gehang.

‘n Projek van die koerant, wat nog in sy kinderskoene is, naamlik om serpe uit te deel, het heel toepaslik voorgekom.

Die twee Nellies op pad na die funksie in die eetsaal van die Kosmos Aftree-oord.

Tannie Nellie se plaasagtergrond in die Amersfoort-omgewing het nie in haar pad gestaan om sowat twee dekades gelede tuis in die tehuis te voel nie.

“Die ouetehuis van Standerton is ‘n toevlugsoord vir ons oumense,” het sy gesê.

“Ons ontvang baie liefde hier.”

Sy het daarna ‘n dankgebed tot haar Hemelse Vader gerig vir die tyd wat sy by die ouetehuis deurgebring het en ook die personeel bedank.

Daarna was dit die kort entjie na die eetsaal wat keurig op die wintersoggend vertoon het.

Die samesyn was gesellig en me. Marthie Venter en haar span het reggestaan met eetgoed en koffie en tee wat bedien sou word.

Ds. Pieter Kotze het kort en kragtig ‘n boodskap met verwysing na 2 Pet. 3:18 gelewer, wat die strewe na genade en kennis van die Here beklemtoon het.

Die boodskap het inslag by tannie Nellie gevind en ook die sing van ‘n bekende seëning.

‘n Stem aan tafel het tersyde opgemerk dat as sy die dag ‘af’ is, kuier sy by tant Nellie en voel dan sommer beter.

Die personeel het ook in die eetsaal aangetree en vir haar gesing, wat haar liefdevolle geaardheid na vore laat kom het.

Haar dogter en naamgenoot, Nellie, het geredelik ingestem om bietjie van haar ma se persoonlike besonderhede te deel, te wete haar eerste huwelik met mnr. Machiel Meyer en daarna met mnr. Danie Botha.

“My kosbaarste herinnering is haar onwrikbare geloof,” het haar dogter gesê.

“Vanmôre is dit bietjie oorweldigend om te weet dat elkeen wat hier is, lief vir my is,” het Petronella Susanna Botha gesê.

Die personeel van die outehuis sing vir tannie Nellie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button