Local newsNews

Twee vroue beywer hulle vir gesonde katkolonies

Met statistieke wat aantoon dat ’n gesonde kolonie jaarliks groter en groter word, moet mense gehelp word om ’n kolonie van gesteriliseerde katte aan te hou.

Twee vroue van Standerton se betrokkenheid by dierewelsyn en spesifiek rondloperkatte, sorg vir die lief en leed van die lewe.

Me. Elsie Foley en me. Priscilla Lee Blignaut het hul gewaarwordinge ietwat verskillend bewoord:

“Ek verloor ‘n stukkie van my siel as een doodgaan,” het Priscilla gesê.

“‘n Probleem is dat jy verlief raak op een as die diertjie opdaag.”

“Die laaste 15 jaar is daar al maklik 80 katte deur my huis,” het Elsie gesê.

“Wat hartseer is, is dat daar die beter mammas is wat kleintjies van ‘n ander werpsel aan haar sal laat drink.”

Priscilla het daarna ‘n jong katma met ‘n tiener wat ‘n baba kry, vergelyk.

Me. Ceska van Huyssteen het begin om rondloperkatte te versorg en ‘feral care’ is op Standerton gevestig, wat deur Facebook-inskrywings tot dié twee se hulp aanleiding gegee het.

Die Foleys, wat tuis agt katte, vier honde, hasies, vissies en gekko’s het, het die aannemingsproses van ‘n wilde katjie of twee, of selfs meer, met gemak hanteer.

Priscilla moes mooi nadink oor haar getal want die moontlikheid van ‘n katjie wat gaan aanbly, bestaan wel, en het die eindtotaal op vier katte, ‘n labrador, vissie en verkleurmannetjie laat klop.

Hulle was eensgesind oor die menslike spesie se voorkeure naamlik dat daar óf katmense, óf hondmense, óf mense is wat glad nie van diere hou nie.

Priscilla se vyfjarige Peyton het reeds aangekondig dat sy eendag ‘n ‘animal rescuer’ wil word en Elsie se spruite het grootgeword daarmee dat hul ma katte red.

Albei het die erns van die saak onderstreep en het hartverskeurende, maar ook opbouende verhale om te vertel.

Geen wonder die lot van sulke katjies is in die weegskaal nie. (Foto: Verskaf)

Laerskool Standerton, Hoërskool Standerton, die Kosmos Aftree-oord, die perdestalle en naby enige onderneming of gebou waar kos weggegooi word, is al as katkolonies geïdentifiseer.

As ‘n katkolonie gesond is, kan die diere redelik oud word met diere wat daagliks veg om oorlewing.

Met statistieke wat aantoon dat ‘n gesonde kolonie jaarliks groter en groter word, moet mense gehelp word om ‘n kolonie van gesteriliseerde katte aan te hou.

As ‘n kat ‘n immuniteitsiekte het, waarvan die koste R300 beloop om hom/haar te laat toets, en die resultaat is positief, moet die dier dadelik uitgesit word want die siekte is oordraagbaar.

Rondloper- en wilde katte is ook geheel en al aan die weersomstandighede uitgelewer, hoewel met ‘n sterk oorlewingsdrang, en voordat ‘n dier in ‘n vanghok gesit kan word, moet jy maar ligloop vir die kloue.

As ‘n katjie ouer as ses weke is, is dit moeilik om die diertjie te rehabiliteer.

Elsie en Priscilla is ook deeglik bewus van mense wat uit die dorp trek en hul troeteldiere agterlaat waarvoor ‘n heenkome dan gesoek moet word, maar het een beginsel duidelik gestel:

“Feral care is nie daar om vir jou troeteldier se werpsel ‘n huis te kry nie.”

Hulle het afgesluit deur die gemeenskap te bedank vir hul bydrae waarsonder die waardevolle werk nie gedoen kan word nie.

Related Articles

Back to top button