Evander en Bethal is onder slegste vullisterreine in Mpumalanga

AfriForum sal proses deurlopend monitor

HOëVELD – Die organisasie AfriForum het onlangs verskeie vullisterreine in Mpumalanga besoek as deel van ‘n nasionale projek om die gehalte van die vullisterreine te meet.

Van die vullisterreine in die omgewing wat Evander en Bethal insluit, was onder dié wat die slegste gevaar het met onderskeidelik 0 persent en 10 persent.

Standerton is as die slegste een aangewys met 0 persent, Breyten as die tweede slegste een en Evander derde.

Middelburg is as die beste vullisterrein in Mpumalanga aangewys met 92 persent terwyl Witrivier tweede lê met 80 persent.

Volgens mnr. Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het slegs vyf vanuit die 25 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, aan die nasionale standaarde voldoen.

“Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wet no. 59 van 2008), moet ‘n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen,” het mnr. Pretorius gesê.

Die oudit wat AfriForum gedoen het, bestaan uit ‘n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika in terme van toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie meet.

‘n Vullisterrein moet minstens 80 persent behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens mnr. Pretorius is die meeste vullisterreine in Mpumalanga in ‘n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik aan ‘n gebrek aan instandhouding en toerusting toegeskryf word.”

Mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het gesê dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies ‘n groot probleem is.

“Die probleem word ook vererger wanneer stakende munisipale werkers dié terreine onwettig sluit en die munisipaliteit die rommel onwettig buite die terrein stort.

“As daar boonop van diensverskaffers verander word, kan dit ‘n beduidende impak op die toestand van vullisterreine hê.

“Dit is wat in Middelburg gebeur het, wat ‘n enorme impak sedert 2018 gehad het.”

AfriForum-takke sal druk op owerhede in hul gebiede toepas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter.

Volgens AfriForum behoort dié komitees te bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die onderskeie dorpe wil verbeter.

Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite.

Exit mobile version