Mans gewapen met panga’s naby Morgenzon laat spaander toe boere begin soek

’n Boer op ’n plaas tussen Standerton en Morgenzon se flink optrede het heel moontlik ’n poging tot ’n plaasaanval in die wiele gery.

’n Boer het tuisgekom en net nadat hy in die motorhuis ingery het, het hy vier mans met panga’s in sy tru-spieëltjie gesien.

“Gelukkig was my bakkie nog aangeskakel en ek het toe agteruitgery en hulle het weggehardloop,” het die boer gesê.

Hy het sy ma, wat in die huis was, geskakel om haar te waarsku en ook al die veiligheidsgroepe in die omgewing laat weet.

Boere het van verskeie omliggende dorpe wat Bethal, Standerton en Morgenzon insluit, na die plaas gegaan en in die omliggende gebiede na die mans gesoek.

Volgens een van die lede van die veiligheidsgroepe, het hulle oral op die koppies, in plaashuise en skure gesoek, maar kon die verdagtes nie vind nie.

Een van die boere het onthou dat hy vroeër die dag ’n bakkie gesien het wat mense op ’n vreemde plek, naby ’n plaas, afgelaai het.

Die boere het in hul soektog op ’n ander voertuig, wat verdag gelyk het, afgekom en twee mans met slagmesse gekry.

Hulle het die polisie ontbied en die mans is in hegtenis in verband met veediefstal geneem , maar die polisie moes hulle later laat gaan omdat geen geslagte diere in hul besit was nie.

Die boere, veiligheidsgroepe en polisie het later die aand op die voertuig, wat vroeër die dag mense afgelaai het, afgekom en die voertuig is afgetrek.

“Die verdagtes het kort-kort die bestuurder geskakel om hulle te gaan oplaai,” het ’n lid van een van die veiligheidsgroepe gesê.

Die polisie het ’n lokval vir die verdagtes gestel en gereël om hulle te gaan oplaai, maar hulle het nie opgedaag nie.

Exit mobile version