Feral Watch wil Secunda se wilde katte in sakekern help

Dié kat is slegs een van ’n ongekende aantal wilde katte in die Secunda-sakekern

SECUNDA – ‘n Wilde katjie van sowat 10 weke oud het verlede week ‘n paar huishoudings op horings gehad.

Die diertjie was vir meer as twee dae bo-op die dak van ‘n dubbelverdiepinghuis in Johnny van der Merwestraat vasgekeer en het die huiseienaars en bure in die kompleks goed laat hoor dat sy daar is.

Dr. Janine Uys het me. Nicolette van Zyl van Feral Watch TNR gekontak oor die katjie op haar bure se dak.

Dit was egter geen maklike taak om dié kiets van die dak af te red nie.

Buiten die katjie se vrees vir mense, was ‘n standaard leer net nie lank genoeg om op die dak te klim nie.

Mnr. Alf Byleveldt van Jelani Sekuriteit het teen skemer op Woensdag, 15 Mei, ‘n industriële leer aangedra en mnr. Andries van Zyl was die waaghals om die hoogtes aan te pak tot bo-op die dak.

Die kleine kietsie wat al die konsternasie veroorsaak het.

Kat se kind was duidelik nie hiervoor te vinde nie en het ‘n ontsnaproete tot binne-in die huis se plafon gevind.

Einde ten laaste het me. Van Zyl besluit om ‘n valstrik in die dak te plaas met die hoop dat die katjie honger genoeg sal wees om die aas daaruit te probeer neem.

Mnr. Byleveldt het die strik gestel en die volgende oggend was daar weer op sy knoppie gedruk om die strik uit die plafon te verwyder.

Daar was egter geen kat in die strik nie en niks van die buit is aangeraak nie.

‘n Paar ure later het werkers van Green Wireless Solutions en Dickenson Home Improvement, wat vir ander dienste by die kompleks was, ook ingepring en probeer om die wit-en-grys katjie te red.

Hierdie keer het die diertjie egter ‘n ander uitweg gesoek en etlike meters van die dak na ‘n afdakkie en toe na die grond gespring waar sy uiteindelik onder in die enjin van Dickenson se ligte vragmotor gaan skuiling vind het.

Feral Watch het teen hierdie tyd meer hande gebring en almal het probeer om die kietsie uit te lok.

Met ‘n gepor en stoot, en ‘n blikkie Pilchards in tamiesous is daar probeer om die verhongerde kat uit te lok.

Sy het skielik vanuit die enjin gespring en soos blits onder ‘n tuinhekkie verdwyn.

Dié kat is slegs een van ‘n ongekende aantal wilde katte in die Secunda-sakekern.

“Ons sal ‘n plan daar moet maak, want die diere teel al hoe meer aan.”

Mnr. Jerris Subermoney (huiseienaar) gee die valhok vir mnr. Alf Byleveldt aan.
Exit mobile version