Oud-Bethaller slaan laaste kolhou

Familie sal oud gholfspeler as vredenliewende mens onthou

BETHAL – Mnr. Kotie Koen (80) is op Donderdag, 9 Mei in die Riversdal Hospitaal in die Kaap aan nierversaking dood.

Mnr. Koen en sy vrou, Alet, was vir 54 jaar inwoners op Bethal voordat hulle verlede jaar na mnr. Koen se geboortedorp, Albertinia in die Suid-Kaap, verhuis het.

Hy was ‘n bekende in gholfkringe in die destydse Oos-Transvaal en was ook ‘n provinsiale gholfspeler en lid van Bethal Gholfklub vir langer as 50 jaar.

In sy jonger dae het hy provinsiaal rugby en hokkie gespeel, en hoewel gholf sy groot liefde was, het hy weens sy gesondheid ‘n paar jaar gelede opgehou speel.

Mnr. Koen word oorleef deur sy vrou van die afgelope 54 jaar, twee dogters, me. Welma Stormont en me. Hanlie Nortje, en vier kleindogters.

Sy dogters het hom as ‘n vredenliewende mens propvol humor, stories en lekker lag beskryf.

Hulle het ook gesê sy nabootsing van die oorlede sanger, Gé Korsten, was eerste klas en hy was net liefde met ‘n omgee-hart en oop hand.

Sy skoonseun, mnr. Pieter Nortje, het gesê die braaivleis en potjiekos maak saam met sy skoonpa is wat hy die meeste sal mis.

Die familie het almal wat hulle ondersteun het deur ‘n oproep te maak of ‘n boodskap te stuur, bedank.

“Ons vind berusting daarin dat Kola ‘n vol lewe gelei het en baie mense se lewens verryk het met sy liefde,” het me. Koen gesê.

Mnr. Kotie Koen is op Donderdag, 9 Mei aan nierversaking dood. By hom is sy vrou, me. Alet Koen.
Exit mobile version