Chantelle geniet loopbaan as gospelsanger

Me. Du Preez werk voltyds saam met haar man en ouers in die familie se verskeie ondernemings op Leandra, maar as sy die kans kry, verruil sy graag die bakery om by kerke en geleenthede te gaan sing.

LEANDRA – As Chantelle du Preez (35) plaaslike gospelsanger, agter haar klavier inskuif, is dit vir haar die enigste plek waar sy en die lewe met mekaar kan sin maak.

Sy is dankbaar dat sy tot mense se harte met haar sang kan spreek.

Me. Du Preez werk voltyds saam met haar man en ouers in die familie se verskeie ondernemings op Leandra, maar as sy die kans kry, verruil sy graag die bakery om by kerke en geleenthede te gaan sing.

Sy is die orrelis by die N.G. Kerk op Eendracht en sedert sy kan onthou, sing sy al.

Me. Du Preez het in 2010 amptelik begin om as professionele sanger op te tree.

“My ouma het my altyd laat sing as ons kuiermense gekry het en ek het van kleinsaf gereeld in die kerk gesing,” het Me. Du Preez gesê.

Haar eerste CD, “Net Lief te hê”, is in 2011 uitgereik.

Haar tweede CD is verlede jaar uitgereik.

Sy verkoop haar CDs vanuit die hand en op die internet.

“Ek wil mense in die oë kyk en sê hoe ek voel met my liedjies.

“As ek my CDs in winkels verkoop en deur agente werk, sê hulle vir ‘n mens wat om te sing.

Musiek is vir Me. Du Preez ‘n uitlaatklep en sy is ewe gemaklik agter die klavier as met ‘n mikrofoon in haar hand.

Sy skryf haar eie liedjies en skryf graag oor die dinge in die lewe wat sy beleef en somtyds mee worstel.

Chantelle du Preez is ewe gemaklik met die mikrofoon in haar hand as agter die klavier.

“Ek het altyd gedink my musiek is net vir myself, maar ek het besef dit is my roeping.

“Ek is nie goed met preek nie, maar ek kan vir jou iets sê deur my liedjies en dit kan dalk met jou hart praat.

Sy is op Middelburg gebore en het haar laerskool-loopbaan op Leandra voltooi.

Sy het tuisonderrig gekry. Dit was maar ‘n eensame pad om op so klein dorpie te woon en sy het dus baie stilte gehad.

“In al die stilte het my pad met die Here begin.

Een van die liedjies op haar tweede CD gaan oor haar pa wat in 2014 met kanker gediagnoseer is en die moeilike tyd waardeur sy en haar gesin is.

“Dit was ‘n verskriklike tyd in my lewe. My pa se hart het twee keer gaan staan en hulle moes hom bybring.”

Haar pa is nou skoon van die kanker en is ook by die gesin se verskeie ondernemings op Leandra betrokke .

“Baie mense dink as ‘n mens op ‘n verhoog staan en ander bedien, is jou lewe perfek en het jy nie probleme nie, maar ons het dieselfde probleme en uitdagings as gewone mense.”

‘n Toer na Israel 10 jaar gelede, het haar verhouding met die Here wat lankal reeds gevestig was, verdiep.

Me. Du Preez het dié toer as een van die hoogtepunte van haar lewe beskryf.

“Dit was ‘n wonderwerk hoe alles in plek geval het vir my om op daardie toer te kon gaan.

“Ek het die advertensie vir die toer op televisie gesien en geskakel om net uit te vind wat dit sou kos.

“Ek wou dan spaar en eers die jaar daarna gaan, maar toe sê die organiseerder, wat ook ‘n bekende prediker en sanger is, Hessel van der Walt, ek moet daardie jaar saamgaan.

“Dit was in Junie en die toer was in September. Ek het nie eers ‘n paspoort of geld gehad nie, maar toe bid me. van der Walt vir my oor die telefoon.

“Ek het toe begin etes maak vir mense en dit verkoop en vir mense gesê waarom ek die etes maak. Mense het sommer ekstra geld vir my gegee vir die toer en ook wanneer ek opgetree het.”

Me. Du Preez het net geweet sy moes op dié toer gaan.

“Ek het op dié toer net opnuut besef dat die Here belangstel in ‘n mens se lewe tot in die fynste besonderhede.”

Sy hekel graag in haar vrye tyd en gee ook sang- en klavierlesse buiten haar voltydse werk by die gesin se bakery op Leandra.

Sy is deel van ‘n groep geestelike sangers wat graag saamsing en so twee jaar terug ‘n DVD opgeneem het.

Chantelle du Preez glo dis die Here se roeping om gospelmusiek te sing.
Exit mobile version