Local newsNews

Ouma Magrietha Swart kry standbeeld op Standerton

Mnr. Rousseau het ook al sy borge hartlik bedank vir die bydraes om geliefdes se laaste rusplek in ere te herstel.

Mnr. Rudie Rousseau, ‘n vryskutkameraman van Roodepoort se landwye betrokkenheid by konsentrasiekampbegraafplase wat dateer uit die Anglo-Boereoorlog, is nou betrokke by die oprigting van ‘n standbeeld op Standerton vir ouma Magrietha Swart wat agt kinders aan die dood afgestaan het.

Die beeldhouer, Jaco van Niekerk, sal dié vollengte beeld van dié Boervrou en haar kinders doen.

Uiteraard is daar geweldige onkoste aan verbonde, maar die kunstenaar van Hartbeespoortdam-omgewing het ook die konsentrasiekampbegraafplaas in Kimberley besoek en deel die sentimente van mnr. Rousseau.

Die Standerton Advertiser se telefoniese onderhoud met mnr. Rousseau is kort-kort onderbreek toe hy nie selfoonsein gehad het in die berge van Lydenburg nie, maar die gesprek kon teen Dullstroom se kant afgehandel word.

Hy het meelewend en vloeiend vertel van die begin van sy belangstelling in die oorlog van 1899 tot 1902 en het besoek afgelê by begraafplase op plekke soos Balmoral, Vryheid, Moorivier, Eshowe, Heidelberg, om ‘n paar te noem, en moue opgerol hier op Standerton.

Benewens hulp met ‘n vorige skoonmaak van die begraafplaas, het hy ook gehelp om ouma Magrietha se gedenksteen te skuif vanaf die Standerton Rivierpark na die konsentrasiebegraafplaas.

Die omstandighede waaraan die vroue en kinders onderwerp was, lê hom na aan die hart, vandaar sy produksies oor die oorlog.

“Ek het kampe met ‘n termometer in die winter besoek om deur die kamera te wys hoe koud dit was.”

Ter plaatse het hy kennis gemaak met van die inwoners soos mnre. Jannie Kasselman, Jannie Degenaar, Ernie Arendt, Riaan Pienaar en me. Marianne English.

“Hulle is bittereinders en ek sal enige oorlog met hul aanpak,” aldus Rudie.

Die gasvryheid van Standerton se mense het hom ook beïndruk en Appledew Gastehuis het in die verlede reëlings getref vir sy gratis verblyf.

“Ek het nie woorde om vir hulle dankie te sê nie.”

Hy het ‘n Facebook-blad genaamd Vergete Britse Moordkampe in Suid-Afrika begin waar belangstellendes meer inligting kan kry.

Mnr. Rousseau het ook al sy borge hartlik bedank vir die bydraes om geliefdes se laaste rusplek in ere te herstel.

Die huldeblyk aan ouma Magrietha sal amptelik in middel-Junie onthul word.

Lesers sal betyds van die geleentheid in kennis gestel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button